Die onrustige restant

Sê maar net
-

Dieter Maree – So deur die klam, souterige biltong tussen ons kiestande en die droë rugby op die televisieskerm, bars hy uit met iets wat niks met rugby of vleis te doen het nie.

“. . . hulle het vir my gelieg!” 

“Ja-nee, die verdediging is nogal ’n bietjie swak,” probeer ek die gesprek in ’n ander rigting stuur. Daar is werklik nie vandag krag om nog ’n “conspiracy theory” te ontrafel nie.

“Nee man, ek praat nie van die rugby nie,” vererg hy hom. 

“Ag, dis oukei, dis darem nie so erg nie, dalk gaan hulle ’n nuwe afrigter aanstel, word die gesprek kwansuis tersaaklik gehou.”

“Ek het altyd gedoen wat van my verwag word, en ek bedoel nou van die voorligtingonderwyseressie se instruksies op laerskool tot dominee se pligte aan my as kerkraadslid,” begin hy met ’n gesprek wat hopelik voor die eerste helfte aan ’n einde gaan kom.

“Ja-nee, ons het ook ’n voorligtingonderwyser gehad wat ons almal destyds aangeraai het om onsself as ambagsmanne te bekwaam. Al wat pen vashou gaan die wêreld met sy slimgeid vernietig en die ambagsmanne gaan hom weer opbou,” deel ek onverwags ’n ou plattelandse insig wat nogal sin maak, as ’n mens vandag met nugter oë na die wêreld kyk.

“As sy maar net die moed gehad het om naby ’n rugbyveld te kom, sou die eerste span daai jaar ook ’n bietjie beter gevaar het.”

“Het jy geweet ek was die toppresteerder in my standerd 5-klas en in my matriekjaar het ek ’n paar toekennings ook losgeslaan?” hoor ek die eerste keer van die akademiese prestasies van ’n gedugte agterspeler.

Na ’n stukkie papier van ’n buitelandse universiteit praat ’n man nie juis van wat op laerskool of hoërskool gebeur het nie, of drome en vooruitsigte wat ’n veilige vesting op die grys en somber ashope van die lewe gevind het nie.

”Ja, ek was nogal skerp, en die besigheid doen goed. Daar het darem ’n paar nuwe kontrakte ook ingekom,” bring hy die verlede op ’n vreedsame wyse nader aan die “Ek is ’n ingenieur, ’n vennoot, ’n goeie pa vir my kinders en ek betaal gereeld my tiendes, maar dit voel soms…”, klop hy sagkens aan ’n deur wat ek nie te vinnig wil oopmaak nie.

“Dit voel soms asof daar iets is wat jy mis.. .” sluit ek huiwerig by sy gedagtegang aan. 

“Ja,” haal hy diep asem met die dankbare verligting van iemand wat al lank met ’n gewigtige saak worstel.

“Jy sien, die rede hoekom daai voorligtingonderwyseressie ons aangeraai het om ambagsmanne te word, is omdat hart en hand moet saamgaan. Ons gaan by ’n stadium in ons lewens kom waar die hand of verstand oënskynlik al wat ’n probleem opgelos het of verwagting oorskry het, maar waar die hart nog steeds sy eie roete en ritme gaan volg.

“Ja-nee, daai juffie het vir ’n oomblik hart aan hand en verstand gesweis toe sy ons vertel het van die mak titels en die moderne wêreldse prestasies wat die hand flous, die verstand dryf, maar nog steeds die ongeveinsde hart onvervuld laat.

“Sy het gedurig gepraat van ’n onrustige restant, dit wat blykbaar oorbly nadat ons aan al die lewe se eeueoue eise voldoen het, dit wat buite die voorspelbare en uitgetrapte patroon val!”

“Ja, met haar effens besope uitkyk op die lewe, het sy ons gemaan om so bietjie af te dwaal veral nadat ons sukses behaal,” onthou ek nog die rympie wat sy herhaaldelik vir die klas geprewel het.

“Het sy ’n drankprobleem gehad?” kom daar weer ’n geluid uit ’n mond wat nog steeds sukkel om die biltong af te kry.

“Nie eintlik nie, ek dink maar net sy het soms haar eie betekenis aan Frost se two roads gegee!”

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer