Die onderwysreg, suspendering en skorsing
Godfrey Kleinhans
Een van die grootste uitdagings by enige skool is die handhawing van orde en dissipline. Onderwys kan eenvoudig nie sonder dit klaarkom nie; dit skep die ruimte waarin onderrig en leer gebeur.
Hoe groter die skoolpopulasie, des te groter en intenser die uitdaging. Baie mense haal, en met nostalgie, die “goeie ou dae” aan toe orde en dissipline eenvoudig met die rottang herstel is. So nou en dan, alhoewel skaarser by die dag, dop daar gevalle op dat die Alternatiewe vir Lyfstraf, soos voorgeskryf in die Onderwyswet, eenvoudig vir ’n wyle eers vergeet word.
Lyfstraf is natuurlik taboe in Namibië en ons buurland, die Suid-Afrika (RSA), sedert die aanname van demokratiese grondwette. Heelwat ouers het my al om advies genader nadat hul “beweerde balhorige” kinders gesuspendeer is en moontlike skorsing in die gesig gestaar het. Hulle wou weet of die suspendering in lyn met die Onderwyswet was, of dit in terme van die erns daarvan geregverdig was, of die korrekte prosedure gevolg is en oor die moontlikheid van skorsing. Volgens koerantberigte oor soortgelyke gevalle het sommige skoolhoofde en skoolkomitees nie altyd die toets geslaag nie. In die onlangse verlede het twee ouers my weer genader. In die een geval is twee seniors gesuspendeer omdat hulle na bewering juniors geboelie het. Na ’n week of so is die klag teen die beweerde boelies laat vaar.
In die tweede geval het ’n leerder wat geboelie is, terug baklei. Volgens die ouer het die boelie sleg tweede gekom, maar die saak het nie verder as die skoolhoof se kantoor gevorder nie. Die ouers wou veral weet of die korrekte prosedure gevolg is. In dergelike gevalle is die gesegde, “Heavy lies the head that wears the crown” so waar!
Die skoolhoof moet ernstig oorweging aan die volgende skenk: Is die oortreding so ernstig en die skade (injury) so omvangryk dat dit uitsetting regverdig? Die antwoord op hierdie vraag kan net gekry word na deeglike oorweging van die dissiplinêre voorskrifte van die skool. Hierdie voorskrifte is vervat in die gedragskode vir leerders, die Onderwyswet van 2020, die Wysgingswet van 2023 en die Onderwysregulasies.
Besluit die skoolhoof op suspendering van ’n oortreder, moet kopieë van toepaslike gedeeltes van hierdie voorskrifte met die betrokke oortreding/s uitgelig aan die beweerde oortreder en sy ouers/voogde/losiesouers besorg word.
Elke skool moet in terme van die Onderwyswet ’n gedragskode vir leerders hê wat aan onderwysers, ouers en leerders bekend is en prominent op die skoolperseel vertoon word. ’n Gedragskode vir leerders is ’n vorm van ondergeskikte wetgewing en moet dus duidelik, maklik leesbaar en verstaanbaar wees.
Die howe het ook al gevra of gedragskodes onbillik diskrimineer, sekere uitsonderings maak soos die dra van religieuse en kulturele kentekens (hare, juweliersware) en of die reëls van natuurlike geregtigheid in die dissiplinêre verhore nagekom is.
Terug na suspendering en skorsing. Suspendering en skorsing is ernstige sake; dit kan die einde beteken van die skoolloopbaan van die leerder. Dit kan ook die begin van ’n sukkelende bestaan, sonder enige noemenswaardige skoolopleiding, beteken. In die lig hiervan is dit van kardinale belang dat skoolhoofde, skoolrade en dissiplinêre komitees hulle deeglik vergewis van die voorskrifte vervat in artikels van die Onderwyswet van 2020 en die Wysigingswet van 2023.
Die volgende is uiters belangrik. Oortreders kan slegs gesuspendeer word vir ernstige oortredings soos omskryf in artikel 23(6) van die Wet; met ander woorde wanneer die gedrag van die oortreding van so ’n aard is dat dit onderrig en leer onmoontlik maak. Verder, wanneer die skoolhoof suspendering oorweeg of toepas dan het hy/sy reeds, weens die erns van die oortreding, skorsing in gedagte.
Doen hy of sy dit, moet die datums vir die dissiplinêre verhoor aan die beskuldigde en sy ouers/voogde/losiesouers deurgegee word. As die skoolhoof gedurende die periode voor die beplande verhoor agterkom dat daar weinig gronde is vir so ’n stap, dan mag hy/sy die suspendering ophef.
’n Bepaling waarmee ek nooit mee kon saamstem nie, is die streekdirekteur se bevoegdheid om suspendering op grond van sy/haar evaluering, op te hef nie. Dit laat die agterdeur vir streek- en plaaslike beïnvloeding van watter aard ook al, wawyd oop. Hierdie bepaling is egter nie in die Wysigingswet nie. Dit is verder belangrik om daarop te let dat suspendering nie ’n straf is nie. Dit word eers ’n strafbepaling na skuldigbevinding in die dissiplinêre verhoor (artikel 6(9)(iii) van die Wysigingswet; met dien verstande dat so ’n aanbeveling van die dissiplinêre komitee deur die uitvoerende direkteur bekragtig word.
Soos hierbo vermeld, is hierdie ernstige sake; toekomste is op die spel. Eerstens in terme van die reëls van natuurlike geregtigheid het elke persoon die reg op ’n regverdige verhoor. Dit beteken dat die beskuldigde die reg het om gehoor te word, om te ondervra en om getuies in te roep. Tweedens, na skuldigbevinding het die ouers die reg tot appèl.
Waar laat dit ons? Eerstens beskik skole oor bepaalde regsmeganisme om nie net orde en dissipline te handhaaf nie, maar ook om dit te bevorder. Tweedens, leerders het bepaalde regte en verpligtinge en is geregtig op regverdige verhore. Hulle moet gehoor word. Derdens, moet ouers intiem deel word van die hele dissipline strukture van skole. En laastens, bly die behoefte aan indiensopleiding en deurgee van inligting aangaande die onderwysreg, steeds ’n werklikheid.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie