Die nes is leeg, maar nie die huis nie
Die huis was vandag stil.
Nie dramaties stil nie. Net anders. Die soort stilte wat nie leeg is nie, maar onbewoon op ’n nuwe manier.
Twee dae gelede het die laaste kind sy huis verlaat om te gaan leer. Nie vir altyd nie, natuurlik. Maar die daaglikse teenwoordigheid is verby. Die stemme. Die veranderende skedules. Die kos wat op geheimsinnige maniere verdwyn. Skielik is dit net ek en my vrou. Meer kos, meer tyd en … dalk bietjie meer sente.
Vir meer as 20 jaar was daar altyd kinders in die huis. Hulle was deel van elke besluit, elke roetine, elke bekommernis. Selfs wanneer hulle stil was, was hulle daar.
Nou stap ’n mens deur kamers wat nog dieselfde lyk, maar anders voel. Dis vreemd hoe vinnig ’n huis kan verander sonder dat enigiets fisies geskuif is.
Mense praat maklik van ’n “leë nes”. Dis ’n bekende uitdrukking. Ek het nog altyd gewonder wat dit regtig beteken. Is dit verlies? Is dit hartseer? Is dit ’n soort aftakeling van die lewe? Of is dit iets anders, iets wat ons dalk verkeerd etiketteer? Dalk eerder ’n nuwe begin, of nog ’n bladsy in die boek van ons lewens?
Toe ek jonger was, het ’n meisie vir my ’n Afrikaanse gedig aangehaal wat sy moes leer: “Julle kinders is nie julle kinders nie.”
Destyds het dit vir my mooi geklink, maar nie juis betekenisvol nie. Eers later het ek begin verstaan. Die Bybel sê kinders is ’n gawe, ’n seën. Nie besittings nie. Iets wat ontvang, versorg, voorberei word – en uiteindelik weer vrygelaat word.
“Leer die kind die weg wat hy moet gaan,” staan daar, “en as hy oud word, sal hy nie daarvan afwyk nie.” Die vers sê nie jy moet hom hou nie. Net dat jy hom moet leer.
Vir ’n rukkie was hulle veilig onder ons vlerke. In ons nes. En toe, amper sonder dat ’n mens dit agterkom, was hulle gereed om die nes te verlaat.
Ek dink dikwels aan die mossies wat oor die jare by ons huis nes gemaak het. Elke lente is dit dieselfde storie. ’n Nes onder die dakrand. Twee kuikens.
Sommige jare was dit eenvoudig. Hulle het grootgeword en weggevlieg. Ander kere was dit nie so eenvoudig nie. Een keer het ’n kuiken se poot aan ’n stukkie tou in die nes vasgehaak. Die geskreeu was hartverskeurend. Ek moes ingryp.
Nog ’n keer het ’n pienk, kaal kuiken op die grond gelê, uit die nes geval, in die son, met miere wat al nader kom. As ek dit nie daar en dan gesien het nie, sou die kuiken dood gewees het. My niggietjie het hom grootgemaak. Hy het uiteindelik ’n mak mossie geword en is later op ’n plaas vrygelaat, waar hy weer by ander mossies aangesluit het.
Maar nie almal oorleef dit nie.
Party kuikens lê net stil onder ’n boom. Dis die deel van die natuur waaroor niemand graag praat nie. En tog hou die mossies aan om neste te bou. Elke jaar.
’n Mens hoop jou eie kinders sal die een wees wat vlieg. Wat hul vlerke vind. Wat regkom. Jy weet jy kan nie alles beheer nie. Jy kan net voorberei.
En nou is ons terug by die beginpunt. Voor die kinders. Maar nie regtig nie. My vrou en ek het mekaar leer ken sonder kinders. Toe het ons mekaar met kinders leer ken. Nou leer ons mekaar weer ken sonder kinders in die huis. Dis nie ’n sirkel nie. Dis meer soos ’n nuwe fase. ’n Ander seisoen.
Ons sal nie weer kinders hê nie. Dalk eendag kleinkinders. Dalk nie. Dis nie iets wat ’n mens kan beplan of opeis nie. Ons weet nie. Wat ons wel weet, is dat ons nog hier is. Saam. Steeds ouers. Net nie meer nes-ouers nie.
Die nes is leeg. Maar dit beteken nie dit was tevergeefs nie. Inteendeel. ’n Leë nes is dalk die duidelikste teken dat dit sy werk gedoen het.
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie