Photo Caption
Photo Caption

Die Namibies/Mars-konneksie

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Chris Jacobie

Die Amerikaners het vandeesweek aangekondig dat hulle aan die hand van meteorietstukke tot die slotsom gekom het dat daar eens op ’n tyd vreemde wesens op die planeet Mars moes geleef het.

Hulle gaan verder en beskryf dit as die grootste ontdekking van die eeu en voer dit aan as regverdiging van die der miljarde dollars wat op hul ruimteprogram bestee is.

Terselfdertyd kondig hulle aan dat twee nuwe sendings Mars toe gestuur gaan word om dié ontdekking op te volg en waarskynlik om met die vreemde wesens teen ’n koste van nog miljarde Amerikaanse dollars in verbinding te tree.

As die Amerikaners – wat ’n internasionale debat oor besparing aan die gang hou – geld spaar, kan hulle teen die koste van ’n vliegtuigkaartjie in Namibië kom kyk of hulle nie afstammelinge van dié bewoners van Mars hier kan opspoor nie.

Die foto van Mars wat vandeesweek bekend gestel is en in minstens twee Namibiese dagblaaie gereproduseer is, lyk besonder baie na die Suide. Daar is klippe wat op die sand groei en dit kan ’n baie belangrike leidraad wees.

Dit mag selfs ’n replika van die Hentiesbaai-omgewing wees waar ook baie vreemde optredes gerapporteer word.

Heelwat optredes van Namibiërs is uiters ongewoon en my oupa het altyd gesê dat daar in ’n geslag kinders altyd iets is wat “terugslaan” en ’n aanduiding is van wat geslagte in die verlede gedoen het of hoe hulle hulleself gedra het.

Die belangrikste leidraad is dat vreemde optrede in Namibië – wat nêrens anders in die wêreld voorkom nie – van ’n ander planeet moet kom.

Met die Amerikaanse ontdekking oor Mars is dit waarskynlik die logiese plek om te gaan soek na ’n Namibies/Mars-konneksie.

Waar op aarde gebeur dit dat ’n werklose nie ’n werk kan aanvaar nie omdat hy staak oor ’n salaris wat hy nog nie eens ontvang het nie? Op Mars?

Die gewoonte dat ministers onderwysers moet waarsku om hul bydrae tot tienerswangerskappe te beperk en nie verder tot ’n bevolkingsontploffing by te dra nie, kan ook net van Mars af kom.

Daar is geen ander verklaring vir van dié gewoontes waaroor Namibiërs peins nie. Selfs al word die Marsfoto onderstebo gehou, is daar eenvoudig te veel ooreenkomste met die Suide om die Amerikaanse bevinding van lewe op Mars as grappies af te maak.

Dit lyk kompleet soos die Vingerklip wat geval het en as ’n mens ’n bietjie verbeelding aan die dag lê, lyk dit soos die tuine van Windhoek soos wat dit binne die volgende paar maande gaan lyk – bloot omdat die stad buite verhouding gegroei het met wat dit kan voorsien.

As die Amerikaners die president van Mars raakloop, kan hulle miskien net uitvind waar die planeet se adviseur woon wat gestuur is om die besluitnemers van raad oor water, landbou en onderwys te bedien.

Dan hoef ons almal nie te wonder oor waar die soms onverklaarbare gedrag vandaan kom nie.

Gemoedsrus sal die “Namibian way” al meer draaglik maak. – 9 Augustus 1996

Kommentaar

Republikein 2026-08-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer