Die mosterdsaadjie en die suurdeeg
Ek het die laaste paar jaar die neiging op sosiale media dopgehou om suurdeegbrood te bak deur ’n suurdeegplantjie te maak en aan die lewe te hou. Met ’n bietjie navorsing het ek vasgestel ’n suurdeegplantjie is basies ’n bottel met meel en water wat in ’n warm omgewing geplaas word om te reageer. Dis dus ’n chemiese eksperiment in ’n bottel.
By Sondag se kinderkerk was ons tema die mosterdsaadjie en die suurdeeg. Die gelykenis wat Jesus vertel het, het dié van ons wat in ’n Christelike milieu grootgeword het, al telkemale gehoor en min of meer die betekenis daarvan begryp. Maar terwyl ek vir die tema voorberei het, het dit my getref ’n mens kan nie werklik ’n konsep aan kinders oordra as jy dit nie self 100% verstaan nie.
Ongesuurde brood is nie iets wat ons in ons alledaagse lewe regtig teëkom nie, behalwe diegene wat graag kerrie eet. Roti is min of meer ongesuurde brood. Ongesuurde brood is ook iets wat iemand uit die tradisionele Joodse tradisie sou ken. Ek het na ’n foto van ongesuurde brood gaan soek om te verstaan waaroor die hele bohaai oor die suurdeegbrood is.
’n Ongesuurde brood, in teenstelling met suurdeegbrood, is rond en baie, baie plat. Vir diegene wat dit graag wil visualiseer – soek vir “unleavened bread” op Google.
Vergelyk dan dié foto’s met foto’s van suurdeegbrood of “sourdough bread”. Suurdeegbrood is ’n brood wat baie meer as ’n plat ongesuurde brood gerys het. En dan vir interessantheid, vergelyk dit dan verder met foto’s van brood met gis in. “Yeast bread”. Die gisbrode is die brode wat die meeste gerys het.
En dan besef ek dat die verskille wat hierdeur uitgebeeld word, die verskille in beskikbare kooktegnologieë deur die eeue heen is. Kitsgis is iets baie algemeen wat ’n mens deesdae in die winkels kan koop.
Die internet sê die tradisie van gisbrood is ongeveer 150 jaar oud. Suurdeeg, het ek intussen vasgestel, is ’n ouer vorm van bak, duidelik een wat al in Jesus se tyd beskikbaar was – volgens die internet ’n tradisie wat 4 000 tot 6 000 jaar terugdateer.
En platbrood is nóg ’n ouer tradisie – een van voordat iemand die chemiese eksperiment van suurdeeg gedoen en verstaan het – ongeveer 14 000 tot 30 000 jaar oud.
Soveel woorde om net agter die kap van ’n gelykenis te kom. Jesus het vertel soos by suurdeeg, ’n mens net ’n klein bietjie daarvan nodig het om die brood tot dubbel sy volume te laat rys.
En die mosterdsaadjie, dit was ’n piepklein saadjie wat tot ’n reuseboom gegroei en die lieflike voordeel gehad het dat dit skuiling vir die voëls kon bied.
Dit maak nie saak hoe klein of onbelangrik ons as Christene in die wêreld is nie, ons rol as Christene is om ’n verskil aan die omgewing rondom ons te maak.
Net soos die brood nie sonder suurdeeg of gis kan rys nie, of soos die voëls nie ’n lieflike nesplek sou hê sonder die mosterdsaadjie nie.
As ons net deel van die samelewing is sonder om ’n verskil te maak, is ons nie regtig besig om te bereik waarvoor ons hier op aarde geplaas is nie. Dan mis ons as’t ware ons lewensdoel.
Die volgende keer wanneer jy ’n lekker groot hap van ’n heerlike suurdeegbrood neem. . . dink net so ’n bietjie dat dit ’n platbrood kon gewees het, as iemand nie spesifiek gekies het om die chemiese eksperiment aan te pak wat ’n verskil aan die resep se eindresultaat maak nie.
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie