Renu00E9 Hugo
Renu00E9 Hugo

Die mooiste, mooiste maand

Sê maar net
-
René Hugo

Ek lees onlangs die volgende stelling wat my hart aanspreek: “October is a symphony of permanence and change.”

My woordeboek beskryf musikale simfonie as “die samevloeiing van verskillende stemme of musiekinstrumente om ’n mooi (permanente) geheel te vorm”. En dit is werklik soos ek elke jaar se Oktobermaand beleef. 

Dié simfoniese samevloei word selfs in die maand se naam weerspieël. Oktober is die tiende maand van die jaar – maar “okto” beteken eintlik agt! Hierdie naam-chaos het glo ontstaan uit die Romeinse kalender wat summier Januarie en Februarie weggegooi het. So word tien en agt toe saamgevoeg om die Oktobernaam-simfonie te vorm.

Ons wêreldgeskiedenis is ook vol van Oktober-veranderinge wat uiteindelik tot belangrike permanente gevolge gelei het. 

Van die bekendste hiervan is sekerlik die volgende:

– 12 Oktober 1482: Christopher Columbus het anker aan die Amerikaanse kus gegooi. En so is die “Nuwe Wêreld” met al sy permanensies en veranderlikhede gebore.

– 31 Oktober 1517: Martin Luther het op hierdie dag sy 95 stellinge teen die kerkdeur in Wittenberg gespyker en sodoende is die Protestantse hervorming begin. 

– 27 Oktober 1966: Die Verenigde Volke se Resolusie no. 2145 is aangekondig, wat ’n einde aan Suid Afrika se mandaat oor Suidwes-Afrika gemaak het. En van toe af staan Namibië op sy eie bene.

As ’n mens na Namibië van vandag in Oktobermaand kyk, lyk dit asof die simfonie van verandering en permanensie ook hier geld. Permanentheid word veral in die tipiese Namibiese weer weerspieël. Oktober is gewoonlik die warmste maand vir plekke soos Etosha en die Zambezistreek. Landswyd is dit ook deel van ons droogste seisoen. Hierdie kenmerke sou mens laat dink dat Oktober die maand is wat die laagste toerismesyfer behoort te hê.  

Gelukkig is dit juis nie die geval nie, want nou beleef Namibië se velde en parke die wonderlike jaarlikse toevloei van migrerende voëls uit die Noorde. Oktober is derhalwe bekend as die begin van die die voëlkyk-seisoen. En so ’n entjie weg van die droë binneland is daar ook ’n ander onverwagse verandering: “Whale watching” neem ernstig in aanvang vir walviskykers langs ons Weskus. Dit gebeur waarskynlik in Oktober omdat die koue seestrome nou warmer word en so ’n veilige “hawe” vir die nuwe walviskalfies skep.

Ook vir alle Namibiërs op dorpe, plase of in stede, is daar wonderlike harmonieuse samevloeiing van veranderinge in ’n permanente Oktober-simfonie.  

Dit is nou die tyd waarin ons permanente veld- en tuinbome uitbars in hulle lente kleed. Die worsboom blom in ’n donkerrooi kleur, koorsbome is vol geel bolletjies, die koraalboom is oortrek met helderrooi bloeisels en selfs die swarthaakstruike het ’n spierwit lentekleed. Nou kan Namibiërs ook nie anders as om die nuwe groen gras wat skamerig kop uit steek, raak te sien nie. En selfs ook om bly te word vir die geel blommetjies (wat die duwweltjie-voorlopers is!) in plekke waar die eerste reëns al geval het. Om nie te praat van die voorstedelike tuine met hul verskeidenheid van lentekleure: Irisse, krismisrose, gousblomme en gesiggies. 

Dit is waar – Namibië beleef elke jaar ’n Oktobermaand-simfonie van permanensie en veranderinge. Daarom kan ons (weer eens!) saam met Leipoldt sing: 

“Die koppies, kort gelede

nog soos ’n klip so kaal,

Het nou vir welkomsgroetnis

hul mooiste uitgehaal.”

Oktober is sowaar ons mooiste mooiste maand!

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-10-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer