Dié lig van Kerstyd
René sê maar net
Kleintyd het ons in die Kinderkrans rondom Kerstyd gesing: "Bethlehem Ster! O wonder lig. Heerlik, lieflike gesig!" En van altyd af was dit vir my asof Kersfees se belangrikste kenmerk nie presente, lekker kos of selfs Kersvader was nie - dit was die liggies van Kersfees.
Ek lees dat die gebruik van ligte (in die vorm van brandende houtstompe) om winterfeeste te versier, reeds in die Middeleeue algemeen was. Later het die Christendom hierdie gebruik oorgeneem, en toe uiteindelik ook die brandende stomp, as ligbron, met kerse vervang.
Maar Kersfees se ander kenmerk, veral in Europa, is natuurlik die Kersboom. Die gebruik van ’n immergroen boom simboliseer die ewige lewe en is as ’n Lutherse Kerstradisie begin. Sodoende was dit amper vanselfsprekend dat die Kersboom en ligte by mekaar sou uitkom. Die eerste aangetekende gebruik van kersligte in Kersfeesbome kom uit Duitsland in 1660. Maar die Duitsers het hierdie gebruik na Amerika oorgedra, waar ’n innoverende denker na vore gekom het met die sogenaamde "clip-on"-kersblaker. Dit is, ná die uitvinding van elektrisiteit deur Eddison, vinnig opgevolg met die versiering van Kersbome deur die gebruik van gekleurde elektriese liggies. (Dié gebruik is ook natuurlik grootliks ondersteun deur Eddison se "General Electric"- firma!).
Die doel van die gebruik van ligte as versierings is sekerlik om 'n feestelike atmosfeer te skep. Maar ek wonder tog soms of ons nie, met al hierdie geskarrel om vanjaar 'n mooier (unieker) Kersboom of nuwe spesiale flikkerende liggies te kry, miskien die wonder van Bethlehem se ster 'n bietjie vergeet nie?
Die Bybel vertel dat hierdie ster veral twee groepe mense na die Christus-baba gebring het.
Eerstens was daar herders wat dié spesiale lig – en engele – in die veld gesien het.
En in die wonder geglo het. Deur die ster gelei, is hierdie ongekunstelde arbeiders na die pasgebore Kindjie gebring wat in'n krip gelê het. Aan wie hulle (met verwondering) hulde kon bring.
Dan was daar ook die wyse manne uit die Ooste wat die ster gesien het. Hierdie wetenskaplikes was waarskynlik sterrekundiges van Persië. Hulle moes baie ver reis - in daardie tyd ongeveer vier maande lank - om uiteindelik die Jesus-kind in Bethlehem te bereik. En aan wie ook húlle hulde gebring het.
Vir my is dit een van die groot wonders van Kersfees. Dat ’n spesiale ster hierdie twee groepe mense, (só verskillend in aard, agtergrond en leefwyse) op verskillende tye, en op verskillende maniere, na Jesus toe gebring het. Om die Nuwe Lig in ons duisternis te ervaar, en ook om die Lig oor die wêreld heen te versprei.
Daarom, saam met die digter, wil ek ook sê:
Ek gaan na ons nagtelike somerhemel kyk
en my voorstel hoe het die ster
bokant die stal gelyk.
Ek gaan my ore toestop
vir die geklingel van slee-klokkies
om te luister hoe die engele sing.
(Lina Spies. Protes teen Kersfees)
Mag Kersfees 2025 vir ons almal vol wees van die gees van Bethlehem se Ster. – Gasskrywer
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie