Die liefde wat ’n vurkhyser bo hou
Luister, ek was nog nooit liefde se grootste aanhanger nie.
Die ironie is dat ek nog altyd ’n boekwurm was en gevolglik stories van grootse liefde, sagte liefde, vinnige liefde, stadige liefde, liefde wat hou, liefde wat breek, liefde wat seermaak en liefde wat genees in my storieboeke gelees het.
Dit bring mens tot ’n vraag wat eeue lank al die ruggraat van filosofiese gesprekke is; wat is liefde?
Is liefde, soos die wetenskaplikes sê, hormone wat ons aanmoedig om voort te plant? Is die antropoloë dalk reg dat liefde ’n manier is vir ons om ons sosiale drange te voed? Of is die filosowe reg dat daar ’n bonatuurlike wese is wat ons in pare geskep het om mekaar van die mooi in die lewe te herinner tot ons onvermydelike einde? Is dit dalk die sielkundiges wat die spyker op die kop slaan wanneer hulle sê liefde is ’n besluit wat jy elke dag neem?
Ek het nog altyd gedink as alles wat mense dink en sê oor liefde waar is, moet liefde meer wees as die som van sy dele. Ek het egter verlede week vir die eerste keer besef dat liefde baie eenvoudiger is as wat ons dink. Toe ek om my kyk na ’n groep mans wat kyk hoe ’n swaar vrag afgelaai word, het ek besef liefde is ’n man wat vir ’n vurkhyser staan en kyk.
Verlede week het ek vroualleen tussen tien mans gestaan en hulle het almal opgekyk asof hulle sien waar hul hulp vandaan kom. Op hul gesigte was effense glimlagte wat van kinderlike verwondering, uiterste waardering en volmaakte liefde gespreek het. Ek hoop opreg dat hulle ook so na die vroue in hul lewens kyk. Ek belowe jou dit sal ons egskeidingsyfer beter laat lyk.
So staan hulle met hul glimlagte op hul gesigte geplak en hul wenkbroue in ’n digte frons – asof hulle besef hierdie is ’n ondier wat hulle nie kan tem nie, al is hulle hóé lief vir haar.
Hier staan ons; ek wat hul konsentrasie aangaap en hulle wat die masjiendier bewonder. As hulle net híérdie vrou kon vashou en vir háár saggies in haar oor kon fluister sou hulle seker maak dat hulle haar ysterhart nooit breek nie.
Selfs die sekuriteitswagte, wat nie veel gepla was deur die aankoms van die vurkhyser nie, het later nader gestaan om na hierdie majestueuse vrou te kyk.
Meteens besef ek wat Plato, Kierkegaard, Sartre en De Beauvoir almal gemis het. Alles wat ons oor liefde wil weet, kan ons op ’n bouperseel leer.
– [email protected]
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie