Adu00E9le van Niekerk
Adu00E9le van Niekerk

Die lewe is seisoene

Sê maar net
Adéle van Niekerk

Die lewe waarsku jou nie wanneer ’n seisoen verander nie. Die son skyn vandag en môre trek die wolke saam. Jy besef soms eers later: die seisoen verander, en jy saam met hom.

Die begin: Somer. Daar waar alles warm en veilig voel. Die begin van jou lewe. Jou kinder- en tienerjare, gevul met lag en kosbare herinneringe. Die jare waar jy groot word met wonderlike ouers wat jou leer van liefde, respek, omgee en deursettingsvermoë. Hier kan jy groei, foute maak, leer en ontdek wie jy is. Soveel van die mens wat jy vandag is se oorsprong kom uit hierdie sonskyndae. Somer bring later ’n ander soort warmte. Jy ontmoet jou lewensmaat. Jy word met pragtige kinders geseën en jou wêreld raak ryker. Daar is ’n huis, ’n gesin, drome, familie, vriende en dae wat jy dink vir altyd daar sal wees. ’n Mens dink selde daaraan dat hierdie somersdae ooit kan verander, maar dan kruip herfs onwetend nader. 

Die blare begin val en skielik lyk die wêreld anders. Vriende kom en gaan. Kinders word groot. Dinge waaraan jy gewoond is verander saam met die lewe en soms moet jy mense, plekke of selfs ’n weergawe van jouself laat gaan. Tussen al die verandering wonder jy waar jy inpas. Dit is dalk juis wat herfs van ’n mens vra – om te aanvaar dat alles nie bedoel is om vir altyd dieselfde te bly nie. Dit is dan wat herfs vinniger as wat ’n mens verwag in winter verander. Die sonskyndae verdwyn agter donker wolke. Verlies, trauma en hartseer kom klop aan jou deur. Skielik wonder jy wanneer, en selfs of jy ooit weer die lig gaan sien. Ons elkeen ervaar winter. Vir sommige kom dit vroeg, vir ander eers later, maar wanneer jy daarin staan, voel dit asof die seisoen nooit eindig nie. Jy verloor mense vir wie jy lief is – soms aan die dood, maar soms verloor jy mense wat steeds hier is. Paaie skei, verhoudings verander en mense wat deel van jou alledaagse lewe is, word herinneringe. Winter laat jou vrae vra waarop daar nie altyd antwoorde is nie. Waarom moet dit gebeur? Hoekom hulle? Hoekom ek? En dalk die moeilikste een: Wat nou? Maar geen seisoen staan vir altyd stil nie. Iewers tussen die kaal takke begin iets verander, so stil dat ’n mens dit amper miskyk. ’n Nuwe persoon kom oor jou pad. ’n Nuwe geleentheid klop aan jou deur. Jy lag weer sonder om skuldig te voel. Jy besef een oggend dat die winter nie meer heeltemal so koud is nie, en voor jy jou oë uitvee is dit lente. ’n Nuwe begin op nuwe plekke met nuwe geleenthede. Jy laat nuwe mense toe om deel van jou lewe te word, terwyl ander stadig deel van jou verlede raak. Die gemengde gevoelens verdwyn nie noodwendig nie, maar iewers tussen dit alles begin vernuwing, vrede en groei. Die donker wolke maak plek vir sonstrale. Wat dood lyk, begin weer blom. Wat onmoontlik voel, begin weer moontlik lyk. ’n Mens kan nie kies hoe lank elke seisoen van jou lewe gaan duur nie. Jy kan nie keer dat mense verander, blare val of winters kom nie, maar jy kan kies om die somer te geniet terwyl die son skyn, die herfs se verandering te aanvaar, deur die winter aan te hou stap en die lente met oop arms te ontvang. Miskien is die geheim van die lewe nie om vir altyd in die sonskyn te leef nie, maar om na jou donkerste winter steeds die moed te hê om weer te blom.

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-10-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer