Adam Hartman
Adam Hartman

Die kennis van menswees

Ek sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Adam Hartman – Menswees is ewolusie. Soos ’n klein lewenstroompie wat deur die soliede gletser van ’n magtige skepping deursny, verg dit tyd en deurdringendheid om die kode van bevryding en wysheid te leer.

Dit begin met die uiteindelike ontmoeting van twee wesens: man en vrou. Hulle sien mekaar en word geprikkel deur die sensasie van belangstelling. ’n Vriendelike bond van gelykvormigheid word geskep en dinge van die hart, siel en gees word dan gedeel. Die god van liefde ontwaak en sonder huiwering word die vlees die asem van lewe.

’n Mens word deur die vlees gebore – ’n mens wat van ’n ander dimensie kom en niks weet van wat om hom op die planeet aangaan nie. Hy is koud en klein en van vroegs af word van hom verwag om die donkerte daar buite baas te raak.

Die ewolusie raak al hoe swaarder soos die mens hom teen die euwels van vrees sterk maak en die dure les van “adapt or die” begin sommer duidelik word. Dit verg ’n dure prys om die gawe van wysheid te bekom en die enigste manier is die harde manier.

Dis ’n almagtige waarheid dat vordering net deur die saaier van lyding kan bestaan en dat harde werk en groot visie die bestanddele van sukses is.

Die mensdom se voorland hang van elke individu af en die fundamentele bestemming is die kennis van die lewe. Is dit nie dan die vrug wat ’n ander ons verhinder het nie? . . . met goeie rede ook: niks doen, niks kry. Dit word so maklik deur baie van ons vergeet.

Soos die mens meer op sy eie geregtigheid staatmaak, word lig op ’n baie donker deel van die lewe gewerp – die deel wat bokke van die skape skei: waar jy gemaak of gebreek word – die lewe van onafhanklikheid.

Elke voël word deur sy skepper uit die nes gestoot om die toets van val of vlieg te tart. Die keuse bevat deeglike nadenke en selfvertroue en selfs die kleinste twyfel kan die uitspraak van doem en verwarring voorspel.

Dis die verantwoordelikheid om die sirkel van dié wat was, dié wat is en dié wat gaan wees te voltooi. Dit laat my dink aan die staaltjie wat aan my vertel is om te toon hoe klein die mens in ’n ewigheid van almagtigheid is.

Die staaltjie van ’n klein suikerbekkie wat een keer per jaar sy klein bekkie op ’n groot diamantberg kom slyp het.

Dit het so aangegaan totdat die berg eendag heeltemal afgeslyp is, wat maar net ’n sekonde uit die ewigheid geduur het. Dis dié eindelose afspeling van die ewolusie van menswees wat maar net ’n geërodeerde diamantberg in ’n ewigheid van berge weerspieël.

Die mens kom en gaan, maar elkeen slyp en verryk sy kennis aan ’n hoë diamantberg. Dit sal so aanhou totdat die berg weggeslyp is en nét so sal die mensdom maar net van ’n baie klein deeltjie van die ewigheid leef en moet toepas met die slyping op nog ’n diamantberg.

Wat probeer ek nou juis met al hierdie gebabbel sê? Dat ons lewens op aarde maar net ’n fantasie van die werklikheid is? Nee.

Ek sou sê dat ons lewens die werklikheid van ’n volmaakte droom weerspieël en dat ons almal aan daardie droom moet werk sodat die werklikheid ons kennis van die lewe sal wees.

Die droom van die mens is die visie van die werklikheid en die werklikheid is dat die ewigheid in ons kennis versteek is. – 14 November 1995

Kommentaar

Republikein 2025-12-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer