Astrid O’Callaghan
Astrid O’Callaghan

Die glansstraal van ‘Jy kán’

Ek het al amper twee maande lank nie my maandelikse glansstraal gedeel nie.

Nie omdat daar niks goeds gebeur het nie, maar omdat die lewe net gebeur het. En ek het gekies om sagkuns met myself om te gaan. Dit beteken egter nie dat daar geen ligstrale was wat deur die harwar van die daaglikse bestaan deurgebreek het nie – inteendeel, my lewe het gesprankel!

Niks besonders het gebeur nie. Ek het bloot doelbewus gekies om die vonkel te sien – tussen ’n paar donker wolke deur. Want sonder reën groei niks nie. Selfs die somer het donderstorms nodig.

Een glansstraal wat my wel besonder getref het, het tydens ’n groepoefensessie in die gimnasium gebeur. Ons het “stasies” gedoen, elke 20 sekondes beweeg ons aan.

Toe ons by ’n opsionele oefening kom, moes ons ’n groot ronde gewig wat 5 kg weeg met een arm optel. Ek het nog nooit daardie oefening gedoen nie en het onmiddellik gedink, “Nee wat, ek slaan dié een oor.”

Die ou voor my het sy sessie voltooi en die gewig vir my gegee. So vanselfsprekend. Ek sê sommer vinnig: “Nee dankie, ek kan nie.”

Hy kyk my net aan, sonder drama of oordeel, en sê eenvoudig: “Jy kán.”

Dis al.

Ek het die gewig gevat en die oefening begin doen. En ek het dit herhaal. Tien keer daardie aand. Nie omdat dit maklik was nie, maar omdat ek besef het ek kán. En ek was trots, nie net oor die gewig nie, maar op die feit dat ek dapper genoeg was om te probeer.

Daardie eenvoudige twee woorde – “Jy kán” – het iets in my aangewakker.

Hoeveel keer in die lewe sê ons vir onsself ons kan nie, en dan probeer ons nie eers nie? Soms gaan dit nie oor die uitkoms nie, maar oor die moed om ’n tree te gee, al voel dit ongemaklik. Om tot aksie oor te gaan voordat jy besluit om op onsekerheid en twyfel te reageer.

Daardie mede-“gimmer” het nie ’n groot ding daarvan gemaak nie. Hy’t net geglo ek kan. En daardie oortuiging het my laat probeer.

My uitdaging aan jou: wees dié week daardie geloofsheld vir iemand anders. Jy hoef nie ’n groot toespraak te maak nie. Kyk net mooi. En as jy sien iemand huiwer – of twyfel aan hulself – plaas jou hand saggies op hul skouer en sê: “Jy kán.”

Want soms is al wat iemand nodig het ’n stem wat glo. . . om hul eie dapperheid aan te wakker.



* Astrid is ’n Namibiër wat saam met haar man en twee jong kinders in Waterford, Ierland, woon. Sy is passievol oor vrouebemagtiging en geestesgesondheid. Dié rubriek is deel van haar Be Brave Monthly Glimmer-inisiatief waar sy elke maand haar gedagtes, ervarings en raad per e-pos deel.

– Gasskrywer

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-05-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer