Wiesie Kotzé
Wiesie Kotzé

Die gejaag in November

Wie het hierdie tyd van die jaar tyd om te sit en dinge te oordink? Diegene wat die tyd neem om dit te doen.

Soms word ’n mens deur die loop van die lewe gedwing om stil te sit en te dink oor dit wat rondom ’n mens aan die gang is, of dit nou vir die oomblik die prioriteit in jou lewe was of nie.

Jare gelede het my ma in ’n stadium hard gewerk en was naby om uit te brand as gevolg daarvan. Êrens in dié woeste tyd van besig wees en rondhardloop, het sy op ’n nat, gladde vloer gegly en met haar hand op ’n warm stoofplaat beland. Nou is dit maklik om te sê dit wat gebeur het, was ’n simptoom daarvan dat sy te besig en te gejaagd was.

Maar haar lyf en die lewe het haar vir ’n tydjie (nie die mees geleë tyd nie) gedwing om ’n klein bietjie stiller te sit en dinge rustiger te vat.

Wanneer sulke dinge gebeur, is dit soms wel die lewe se manier om jou te dwing om te besin oor waarmee jy besig is en wat in jou lewe aan die gang is.

Die lewe gebeur nie altyd met ’n mens wanneer dit die mees ideale tyd is nie. En met “die lewe gebeur met jou” bedoel ek nie ‘n mens is die slagoffer van die lewe nie. Ek bedoel dat die lewe sy loop neem buite ons menslike beplanning daarvan.

Ek glo vas daarin dat indien ’n mens in sulke oomblikke nie teen die gang van die lewe vasskop nie en dit aanvaar vir wat dit is – as buite jou beheer – dan kan ’n mens makliker stil raak en “hoor” wat die situasie jou probeer leer. As ons God se stem die leemte kon vul, glo ek dit sou so klink: In my ma se geval destyds was die boodskap waarskynlik iets in die lyn van “net ’n bietjie stadiger, my kind”. Of as jou lewe halt geroep word omdat jou kind in die hospitaal beland het: “Vertrou op my, ek bly in beheer.”

Dit is so maklik om onder sulke omstandighede totaal in paniek te verval en soos ‘n afkophoender rond te hardloop. Of meer nog soos die beeld van die twee blinde reuse wat deur die dappere snyertjie om die bos gelei is om mekaar dood te slaan. Lomp en ongekoördineerd het die twee mekaar skade aangedoen omdat hulle nie besef het wat eintlik die oorsaak van die probleem was nie.

Ek bid vir almal wat vanoggend ’n oomblik het om oor die lewe na te dink, dat julle nuwe insigte sal kry oor wat aan die gang is en waarmee ons almal besig is, veral gedurende hierdie dolle tyd van die jaar.

Mag die laaste bietjie wat van die jaar oor is ’n geseënde een wees en nie een vol stres en ’n gejaag nie.

– Gasskrywer

[email protected]

* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-04-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer