Adu00E9le van Niekerk
Adu00E9le van Niekerk

Die evolusie van ware liefde

Sê maar net
-
Adéle van Niekerk

Wat is ware liefde? As jy my dertig jaar gelede gevra het, sou ek waarskynlik gepraat het van skoenlappers in die maag en die elektriese skok van ’n eerste aanraking. Vandag, na drie dekades se saamreis, weet ek dis veel meer as net ’n vonk. Dit is ’n dinamiese, groeiende ding wat oor tyd ontwikkel. Die ware evolusie van liefde, gebou uit iets veel dieper en ryker. 

Ons liefdesverhaal het in 1996 begin, in my matriekjaar. Jy was in graad 11. Jou blou oë en songebleikte blonde hare, het my wêreld totaal omgedraai. Jy het nie net my aandag getrek nie, jy het die eerste hoofstuk van ons liefde se evolusie begin skryf, nog voordat ek eers jou naam kon sê. 

Ons begin was alles behalwe ’n sprokie, dit was wild en vol uitdagings. Ons was jonk, vol drome, maar ook vol onsekerheid. Tog was daar ’n onsigbare draad wat ons aanmekaar vasgehou het, ’n belofte wat nie noodwendig hardop gesê is nie, maar in elke kyk en daad teenwoordig was. Dit was die rypwording van ’n band wat bestem was om te ontwikkel en te groei. Ek het toe al geweet jy is een in ’n biljoen. Jou lewenslus en avontuurlustige geaardheid wat na adrenalien smag, het my asem weggeslaan. Dit is daardie vonkel in jou blou oë en jou onblusbare gees wat ons storie so uniek maak, en wat elke hoofstuk van ons lewe saam so opwindend maak.

Die afgelope dertig jaar was die mees onbeskryflike avontuur, ’n deurlopende evolusie van ons saamwees. Ons het winde van verandering trotseer, van ons studentedae in die Kaap tot by die grys lug van Engeland. In die vreemde, ver van alles wat bekend was, het ons ’n diep waarheid ontdek, “huis” is nie ’n plek nie, maar ’n mens. Jou afwesigheid bring ’n leemte, ’n smag wat ek nie kan weerstaan nie, en dit het my telkens herinner dat jy my anker is.

Mense sê dikwels dat die passie mettertyd verdwyn, dat die samesyn later net gewoonte word. My ondervinding is presies die teenoorgestelde. Hoe ouer ons word, hoe groter word my liefde vir jou. Jou kalmte, jou respek, en jou onophoudelike deernis bring ’n rustigheid in my wat geen woorde kan beskryf nie. Jou hande, eens so onseker, is nou my veilige hawe, en jou soene dra die gewig van ’n leeftyd se beloftes en ’n dieper liefde. 

Na drie dekades kyk ek vandag na jou en ek sien steeds die blonde, blouoogseun van 1996, daardie onverskrokke siel vol lewenslus, maar ook die man wat my deur die diepste seer, verlies en trauma gedra het. Die evolusie van ’n jeugdige liefde tot ’n ewigdurende verhouding. Ons avontuur is nog lank nie verby nie, en ek kan nie wag om te sien watter nuwe hoogtes ons saam sal bereik nie. 

As iemand my sou vra wat die resep vir ware liefde is, sou ek nie ’n lys van towerbestanddele gee nie. Ek sou sê: dit is die onophoudelike keuse om te bly, om te verstaan, om te vergewe en om te groei. Dis die geduld wat elke storm trotseer, die respek wat elke verskil eer en die vriendskap wat elke vreugde verdubbel. Dit is die wete dat liefde nie ’n bestemming is nie, maar ’n ewige reis wat oor dekades heen ons band net sterker maak. Dit is die stille belofte in elke blik, die onwrikbare greep van jou hand, die wete dat ons vehouding, na dertig jaar, die uiteindelike evolusie van ware liefde is. Jy is my gister, my vandag en al my môres.

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-08-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer