Die drie vrae. . .
DIETER IAN MAREE SKRYF:
So vertel hy my van sy dae in die Sondagskool toe alles met prentjies en geluide aan hom verduidelik was – boeiend en kleurvolle goed.
“Daar was geen verwysing na enige iets abstrak of raaiselagtig nie, die bloed moes rooi wees en ’n slang was ’n verskriklike ding!“
Dertig jaar later aanskou hy weer die Tien Plae en dit nogal in 3D.
“Dit voel asof jy deel is van die gesprek wat hom op die skerm afspeel en so nou en dan gryp jy angstig aan die stoel voor jou, want ’n hoogte is hoër in 3D.”
“My aandag was ten volle op en ín én onder die skerm gefokus en daar was nie vir ’n oomblik in die rigting van Facebook geloer, om te kyk waarmee iemand anders hom of haar besig hou of in my metgesel se oor gefluister nie.
“Nee, ek was totaal en al teenwoordig…”
So begin dwaal ons gesprek na die skoner geslag en die spaanse aktrise María Valverde wat die rol van Moses se vrou, Sippora in die fliek Exodus – Gods and Kings vertolk.
“Ja, nee die katkiseermeester het ook nie heeltemal die onpeilbare en rebelse aanloklikheid van ’n Bybelse vrou aan ons probeer verduidelik nie. Die indruk was nog altyd dat sy onderdanig en gehoorsaam was, of gruwelik en boos. Dalk was die uiterlike beskou as iets wat moet beperk en reguleer word.”
“Die konserwatiewe visuele uitbeelding, of die illustrasies wat tot dusver in jou geheue geplant is, spreek maar bitter min rondom ’n Ou Testamentiese vrou se persoonlikheid of dit wat daagliks in haar gemoed omgegaan het.”
Volgens die outeur John Eldredge in Wild at Heart – Discovering the Secret of a Man’s Soul is daar drie vrae wat in ’n vrou se hart prut.
Eerstens wil sy weet of sy mooi is. Tweedens wil sy weet, of daar moeite gemaak gaan word, om haar te bekom en laastens wil sy weet of daar vir haar geveg gaan word.
Met haar uiterlike poog sy dus, om hierdie drie vrae op ’n daaglikse basis aan ’n siniese wêreld te stel wat op sy beurt weer ’n paar ander vrae na Eva en haar susters terugslinger.
Is jy al getroud en indien nie, wat is fout? Staan jy finansieël sterk genoeg om na jou behoeftes om te sien? Die lys eindig ongelukkig nie by finansies nie, maar sluit deesdae ook eiendom, oorsese vakansies, akademiese en professionele prestasies en peperduur Louis Vuitton’s ook in.
Met Hollywood se Beyoncé, Kim Kardashian, Coco, Miley en hulle onverpoosde aanslag op die Barbie-aspirant se brose psige, begin bevraagteken beide geslagte egter die bevrydende invloed van hierdié eng, wêreldse siening op die mensdom en meer belangrik, die verbeeldinglose impak van ’n ontluikende selfie-kultuur op daai onskuldige dogtertjie se innerlike groei en welsyn?
Die oordrewe klem op die uiterlike met foto’s wat dreig om die internet te laat ontplof dui toenemend op ’n narsistiese samelewing wat beslis nie ’n bietjie dieper wil delf nie. Matigheid en die geur van pypkaneel het lankal verdwyn!
Moeder Teresa en ’n menigte Sondagskool-onderwyseressies het in hulle beskeie weerloosheid ’n onmisbare krag ontsluit toe hulle sonder ’n magdom tegnologie Christelike waardes aan ’n stukkende wêreld probeer oordra en uitleef, want diep in hulle binneste het hulle ’n stemmetjie ontdek wat saggies fluister. . .
“Here, ek is moeg… maar nog steeds dankbaar, want U het my mooi gemaak en omdat ek die moeite werd is, het U alreeds die prys betaal. . .”
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie