Charlotte Beukes-Muundjua
Charlotte Beukes-Muundjua

Die boom van verwerping

Nóg ’n liggaam hang uit ’n dak; ’n finale rewolwerskoot klap. . . nóg ’n lewe weg.

Ek pleit skuldig; my mense val in julle skuld – ons almal het aandeel in die boom van verwerping, hetsy bewustelik of onbewustelik .

In familie-/werks-/vriendekringe het ons die boom se grond bemes en water gegee. Sommige met druppels ander met kantiene water.

En op ’n dag staan hierdie boom diep geanker, swanger met wrang vrugte. Vrugte van bitterheid, haat, angstigheid, swak selfbeeld, vrese, verwarring, wantroue, selfverwyt.

Dis so maklik om te oordeel. Jy staan op soliede grond; die verstoteling op sy wankelende boot en in baie gevalle te vervalle om die kleed van selfbejammering af te skud. Te swak om alleen op die been te kom. Hy sien net nag en niemand wat tot sy redding kom nie. Wat ’n somber eensame bestaan in ’n vinnige wêreld van “bling and fame”, “the haves and have-nots”?

Dis ’n sielkundige feit dat aanvaarding ’n fundamentele gesonde grondslag is verby die grense van ras, geslag, status of geletterdheid. Daarsonder word jy op die lange duur ’n tolbos warrelend na nêrens.

En hoe oorleef so ’n verwerpte siel dag na dag? . . . dwelm- en/of alkoholverslawing waaruit geweld en selfs selfdood spruit.

’n Tydelike veilige wêreld van salige “behoort”, wetend dat daar buite “normale” mense wag met ’n sak vol klippies om hom verder te stenig.

Jy reken jy’t jou kinders geskool, gekerk – selfs verbeter op jou ouers se foute. Jy glo alles is op ’n gelyke spoor tot die skielike ontnugtering dat jou eens liefdevolle intelligente kind die pad byster geraak het. Wanneer, hoe, waar?

Ons besef soms te laat dat verwerping en boelie hand-aan-hand loop wat selfs die bes opgevoede kind in sy volwasse jare kniehalter.

Net onlangs het Namibië ’n skokgolf van selfdood beleef; mans van verskillende etniese en ouderdomsgroepe. Die draad van groepsdruk, finansiële druk en emosionele druk bereik die finale breekpunt. En opeens besef ons “mans mag huil en selfs knak”.

Dink jou in hoeveel bitter moes broei in hul brein en bloed om uiteindelik hul lewensdraad te knip.

Sal Namibië besef hoe agterweë geestesgesondheid is veral vir die mansgeslag?

Sal ons minder sade van verwerping saai, minder onrealistiese verwagtinge hê, minder bevooroordeeld wees? Of sal ons in eiewaan voortkarring om die boom van wrang vrugte te voed?

Namibië, het jy die “wake-up call” gehoor?

– Gasskrywer

[email protected]



* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-11-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer