Des Erasmus
Des Erasmus

Die bôl op die veld

SMN 30 jaar gelede
Strydig met sy gebruiklike beswaarheid is dit ’n vrolike Oerie wat teen die skuinste opgestap kom. Vra hom na sy welsyn, en hy sê: “Dinge is in.”

Amper met ’n glimlag vertel hy. Hy’t die “pool” by die klub met die Bokke se eindstryd gewen. Hy’s net bereid om te sê dit was ’n groter geldjie as wat hy by die huis gaan vertel het. Uit pure ongeloof het hy toe nog ’n voorskotjie ook gaan vra en dit teen nog groter verwagtinge in gekry.

“Toe gaan sit ek weer so ’n ietsie op die July. En my bra, soos wat môre kom, raak ek al hoe sekerder. Dis toe dié dat ek ook by die bankman ’n geldjie gaan vra. Hy sê hy kan darem nie altyd net nee sê nie. Toe stoot hy ook nog ’n paar dollar.”

Nou bly die ou stil asof hy sy woorde eers mooi wil weeg en dan op pasplek wil insit.

“Dis nou dié dat ek jou kom nooi – sommer vir die naweek kom nooi. Kom vanaand so skuins ná ete en bring sommer ’n stukkie braaivleis of biltong saam. Dan kyk ons weer die Bokke se tape. Is daar ’n biertjie in jou pad ... pak oor maar in.

“Ek kan maar sweer een van hierdie aande ken daai Morrison-kêrel nog Ruben se drie toe. Ons moet net aanhou kyk.”

En die ou lag uit volle bors vir sy eie flou grappie. Kry hy sy asem terug, gaan hy verder.

“Te laat mog jy nie kuier nie. Môre gaan ons rugby toe. Sal ons dan hierdie Noordwesters ooit vergeet? As hulle die een Herklaas kon oplewer, kan daar nog wees. Al breek ek my nek, dit moet ek sien. Jy onthou mos die Engelbrecht-kêrel wat Suid-Afrikaanse rugby se proewe gaan omkrap het toe hy met sy krag daar aangekom het. Die prente het hom altyd gewys waar hy met die vragte vrugte op sy skouers hier in Upington se kontrei rondgeloop het.

“Maar ek sê jou hoe ons maak. Ons vat die vrouens en die kinders saam en sit sommer so ’n ry vol. Hulle sê die span kom reg. Dan moet ons ook bykom.

“Daai tyd sal ’n ou daar in die oopte van die sonpawiljoen die July luister, en wen Surfing Home koop ek vir jou ’n hamburger. En ons vreet en ons drink en skreeu dat hulle die bal vir Eden moet gee. Pale toe, ou maat.”

Hy dink lankerig: “En ons leef ...”

Sommer met dié maak hy verskoning vir sy lankwegbly.

“Wêreldbeker se dinge,” sê hy.

“Vrou weet nie so mooi hoe die stasies en die kanale werk nie. Toe luister en kyk ek ook maar. Maar ek is bly dis verby, want daar end se kant toe het ek dit byna nie meer gemaak nie.” Die ou kom sit langbeen aan.

Ek weet wat hy wil vra, maar moedswil laat hom dit uitsukkel: “Skink dan daar vir ons so ’n knertsie.”

En met die aanstap wynkas toe is ek bly die Wêreldbeker staan in Louis se goue kas. Uiteindelik is alles weer normaal. Hoog tyd ook!

Steeds so op ’n sportiewe noot voel ek hom met so ’n enetjie: “En Martina en Steffi? En Boris en André?”

“Nee,” sê hy.

“Hulle het nie saamgekom nie.” – 30 Junie 1995

Kommentaar

Republikein 2025-07-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer