Die aroma van jou nalatenskap
Onbeplande gebeure, of soos in my geval ’n onbeplande aand uit, het ’n manier om ’n mens nogal aangenaam te verras. Moontlik omdat dit onverwags en spontaan sonder enige voorafbeplande wense plaasvind.
En so vorm ek deel van ’n gesellige groepie mense by ’n geleentheid ter herdenking aan Johnny Davids. ’n Huldeblyktoer wat ontstaan uit vriende en musikante van Namibië en Suid-Afrika om hulde aan wyle Davids te bring deur sy musiek en lewensverhaal met mense te deel.
Die eerste keer toe ek van die naam Johnny Davids hoor; was toe hy en sy destydse sangmaat, Vivian Molauly die heel eerste Zing-sangkompetisie op kykNET gewen het.
Ek was so trots omdat twee Namibiërs – woestynkinders as ek so na hulle mag verwys – die harte van vele Suid-Afrikaners en natuurlik ook ons harte hier by die huis verower het. Ek is daarvan verseker dat Johnny op daardie stadium geen benul gehad hoe radikaal en vinnig sy lewe handomkeer sou verander nie. Die Zing-sangkompetisie, die historiese oorwinning was juis die deurbraak vir ’n groter en meer veelsydiger nalatenskap.
Sy vrou, Liezel, vertel by die geleentheid hoe Johnny die vermoë gehad het om ’n aroma na te laat wanneer hy met mense in aanraking sou kom en dat hy met diepte en deernis na mense sou luister. En selfs wanneer hy op die kassie was, kon ’n mens dié kenmerkende eienskap van hom waarneem.
Hy behaal nie net sommer uitsaai-en mediaprestasies as kontinuïteitsaanbieder op kykNET nie. Hy word ’n bekroonde TV-gesig en dit kan aan sy uitsonderlike veelsydigheid toegeskryf word. Die einste kwaliteit wat besorg dat hy die gesig van hoëprofielprogramme soos Bravo!, Kunskafee, Kwêla asook Tuine en Tossels word. Hy vestig hom nie net in die mediabedryf nie, maar boonop ook as gospelkunstenaar, liedjieskrywer, motiveringspreker, sanger en outeur; en ná ’n lang werksdag was hy ’n doodgewone gesinsman en pa.
Johnny se verhaal is nie net rooskleurig nie, dis letterlik ’n storie van geloof, hoop en liefde, maar wat my van verlede week sal blybly, is toe Liezel verwys na die aroma wat hy nagelaat het en daardie vyfletterwoord het daardie aand by my gespook en vir die eerste keer bepeins ek oor my eie aroma.
Sal my aroma soet en geurig wees en ’n impak nalaat, of sal die aroma wat ek eendag gaan nalaat ’n stank onder mense se neuse laat. Ons kan seker nie almal soveel roem soos Johnny behaal nie, maar in ons daaglikse omgaan met mense kan ons ’n aansienlike aangename en verfrissende aroma nalaat.
Die term “nalatenskap” vewys nie net na fisiese besittings, eiendom of geld nie, maar in ’n breër konteks verwys dit na dit wat ons van geslag tot geslag oordra, soos ons erfenis, taal, rituele, tradisies en waardestelsels wat ’n impak op die volgende geslag kan maak.
As ’n mens oor jou lewe besin, besef ’n mens dat jy eintlik elke dag besig is om die aroma van jou nalatenskap te skryf. Johnny het sy nalatenskap uitgeleef en ’n soet blywende aroma sal vir ewig in vertrekke agterbly. Elke daad ’n woord op die bladsye van sy lewensverhaal.
Vul dus daagliks jou geskiedenisboek met stories vir die volgende geslag en moenie skroom om jou unieke aroma van liefde met mense te deel nie.
– Gasskrywer
* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie