Adéle van Niekerk
Adéle van Niekerk

Desember is hier

Adéle sê maar net
Adéle van Niekerk
Desember is hier. . . vakansietyd propvol pret en plesier! Vir meeste van ons is dit ’n tyd vir draairoomys eet, sandkastele bou, klipvissies vang, en ’n uiltjie knip onder die sambreel. Maar terwyl die wêreld Desember met vreugde vier, is daar van ons wat weer eens herinner word aan die leemte wat geliefdes agterlaat. . . afwesigheid van laggende stemme. . . en leë stoele om die Kerstafel.

Vir my bring die Desembervakansie ’n bittersoet seer. . . ’n mengelmoes van gevoelens. . . dankbaarheid. . . verlange. . . hartseer. . . en vrede. Dis dan wat ek die pad vat. . . tree vir tree. . . langs die soutpaadjie. . . tussen die soutbossies. . . verby die soutpanne. . . tot by die see. Ek voel die woeste windjie waai. . . koue, klam seelug. . . see-skuimballe teen my bene. . . ’n soengroet. Ek staar na die enorme seemassa voor my. . . ek voel die seebriesie saggies oor my streel. . . ’n pleister vir die seer.

In die verte sien ek vissermanne. . . rye stywe visstokke. . . bedelende pelikane. . . en ’n dik, grys kombers wat oor die see hang. Vir ’n oomblik ruik ek die visserige, sout aas. . . ek hoor die gerits van die katrol. . . ek voel die stekelrige seegras. . . ek sien die kraaines. . . en dan die smaak van soet Old Brown Sherry op my tong.

Ek kyk rond. . . ek is nie alleen nie. . . ’n swerm kormorante skilder ’n swart, lang, golwende streep oor die see. . . strandlopertjies dans al op die getylyn rond. . . seemeeue skreeu en stry oor swartmossels. . . robbe dobber in die golwe. . . en flambojante flaminke flikflooi in die blou lug.

Ek stap deur rotspoeltjies. . . vir ’n oomblik staan die tyd stil. Ek bewonder elke poeletjie. . . versier met vissies. . . seebamboes en seegras spoel heen en weer. . . krappe dans op die seebodem rond. . . en dan. . . my vinger vasgevang in ’n seeanemoon se taai tentakels.

Stadig begin voel ek die hitte van die sonnetjie soos dit agter die grys kombers uitloer. Dis glibberig onder my voete. . . versigtige treë. . . oor die mosgroen rotse. Ewe skielik uit die bloute. . . ’n massiewe monster. . . my tone klou vir volk en vaderland. . . branders slaan teen my bene vas. . . my balans. . . my hart klop. . . hoogwater is op pad!

Stadig en versigtig vind ek weer my pad. . . handeviervoet tot op die strand. My voete sink weg in die sagte-skulpie-sand. . . ek luister. . . aanhoudende, oorverdowende geraas. . . geroesemoes van golwe. . . dreuning van kragtige branders. . . skuimende, bruisende water wat terugvloei. . . en dan stilte. In die stilte hoor ek hulle. . . hier by die Atlantiese Oseaan aan my een kant. . . Namibwoestyn aan my ander kant. . . my geliefdes. . . die perfekte stilword-oomblik.

Die son trek al water. . . ek staar stip. . . die hemelruim. . . prentjiemooi. . . rooi, oranje, pienk, pers. . . glansende, goue sonstrale. . . dis hulle. . . dansend op die horison. . . ween van die wind. . . laggende stemme. . . brullende branders. . . hulle is hier!

Ek haal vir oulaas diep asem. . . trek die seelug nog ’n bietjie dieper. . . liefde, vrede, vreugde en genade vul my longe. . . vul die leemte.

Ek stap stadig. . . ek kyk terug. . . ’n betowerende toneel. . . lug vol vlamme. . . ritmiese branders. . . sagte sontrale. . . skoon strande. . . salig. Alles is volmaak. . . my hart. . . my vakansie. . . my Kerstafel. . . en laaste maar nie die minste nie. . . my Desember!

– Gasskrywer

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-01-29

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer