Gerhardus van Grootfontein
Gerhardus van Grootfontein

David se wiskundige vloermoer

Het julle al daardie TikTok-video’s gesien van die “Karens” wat in Amerika uitbarstings kry en plat in die teerpad gaan lê om ’n punt te bewys?

’n Karen het baie spesifieke eienskappe. Gewoonlik het hulle ’n oordrewe sin van die self en hulle voel hulle is as die koring gekroon in ’n wêreld vol kaf.

Op ’n Britse televisieprogram het ek gesien die manlike weergawe van ’n Karen is ’n David. Raai wat. . . my tweede naam is David (soos dit in Engels geskryf en uitspreek word). Liewe leser, twee weke gelede was ek ’n ware David!

Dit is Augustus die 13de. Vroegoggend. Die koue byt. My pa bring my Hosea Kutako-lughawe toe. Op ’n 8:40-SAA-vlug vertrek ek na Johannesburg en dan uiteindelik na China.

Die reis wat meer as 48 uur duur vanaf Windhoek verg nogals pakvernuf. Ek pak gewoonlik op so ’n wyse dat ek een tas (die grote) nie hoef oop te maak voor ek by my huis in China is nie.

Daar is gewoonlik medikasie, boeke, beskuit ens. in. Klere en toiletware is in die kleiner tas.

SAA verleen die hoogste bagasietoelaag vir vlugte tussen Windhoek en Johannesburg. Jy kan twee tasse van 23 kg elk op die vliegtuig neem. Ek en my pa staan in die ry. Die laaste geselsies voel altyd aardig. China is baie ver. Ons weeg my tasse in: My kleiner tas weeg 12,5 kg en my groter tas weeg 26,5 kg. Jy sou dink om 39 kg uit die toelaatbare 46 kg te hê, maak jou bagasie ondergewig.

Hierdie aanname maak ek omdat ander lugrederye jou totale gewig in ag neem. SAA aan die anderkant werk per tas. Die vriendelike beampte gee my opsies vir my: Ek kan of 3 kg uit my groot tas haal (daar is nie plek in my klein tas nie) of ek kan N$800 oorgewig betaal op ’n 7 kg-ondergewig-situasie.

Ek en my pa maak die tas oop. Ek het as kind Tetris gespeel. Wat haal ek uit? Ek is nie seker wanneer ek weer Namibië toe kom nie. Ek het baie strategies gepak. “Betaal net die oorgewig, Boet,” reken my pa. “Ja Pa, maar dis die beginsel van die saak!”

Agter my in die ry staan ’n gawe oom en tannie. Hulle tasse is elk 8 kg minder as die toelaatbare gewig en vra vir die man of hy nie maar ’n vergunning vir my 3 kg kan maak nie. Ongelukkig nie. Die stelsel is onwrikbaar, ongeag hoe onlogies dit is.

Ek word wit van woede. Dis iets waaraan ek werk en nie verskoonbaar is nie. Tog, hier is David. Die kierietjie-F-woord, as ’n byvoeglike naamwoord, woeker homself heel gemaklik in my uiting van frustrasie in.

In die oomblik word ek op my plek gesit deur die beamptes van SAA.

“Meneer, dis nie nodig om onbeskof te wees en te vloek nie. Ons het u opsies aan u gegee.”

Aan die eenkant waardeer ek dit, want as jy jouself nie in toom kan hou nie, dan is dit nie noodwendig ’n slegte ding as iemand anders dit doen nie. Om ’n Karen of ’n David te wees is nie iets om op trots te wees nie. Aan die anderkant voel ek die feit dat ek nie gehoor word nie, laat my frustrasie net toeneem. Ten spyte van beplanning en om noukeurig te pak, verloor jy seggingskap in ’n stelsel van detail.

Steeds wit van woede, nadat ek om verskoning gevra het vir my taalgebruik, betaal ek die N$800 vir my ondergewig-bagasie. As ek dit van die begin af net aanvaar het, kon ek die laaste beplande koffie saam met my pa op die lughawe gedrink het. Nou is daar nie tyd nie.

Wat het ek geleer? Die stelsel is altyd groter as die individu – aanvaar dit en spaar jouself baie moeite en energie. Om ’n Karen of ’n David te wees baat niemand nie, veral nie jouself nie. En laastens, daar is storiesomme wat ons nie in die Namibiese wiskunde-sillabus gedek het nie.

– Gasskrywer

[email protected]



* Beste lesers, keuring vir die publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesersbydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van private besighede word eers aan die onderneming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-10-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer