Marlize Izaaks
Marlize Izaaks

Dalk het jou volgende hoofstuk minder nodig, nie meer

Marlise Izaaks

Ons bestee ’n groot gedeelte van ons lewens aan die vraag: “Wat het ek nog nodig?” Maar dalk is ’n beter vraag: “Wat kan ek uiteindelik laat vaar?”

Die lewe soos ons dit vandag ken, vereis heeltyd meer. Nog ’n doelwit. Nog ’n verpligting. Nog ’n prestasie. Nog ’n besitting. 

Dalk is die volgende hoofstuk nie om by te voeg nie, maar eerder om dit te verwyder wat nie meer in jou lewe hoort nie. Want êrens langs die pad voel dit nie meer soos groei wanneer ons meer byvoeg nie. 

Dit laat my dink aan die gedeelte in die Bybel waar ons herinner word aan die toestand van die siel. “Want wat baat dit ’n mens as hy die hele wêreld win en aan sy siel skade ly?”

Ons almal het al van die uitdrukking “less is more” gehoor. Maar hoe kan dit vir jou betekenis gee? Wat kan dit beteken wanneer iets uit jou lewe verwyder word? Jy het dalk nie meer mense nodig nie, net meer betekenisvolle verhoudings. Jy het dalk nie nog ’n prestasie nodig nie, maar die toestemming om te geniet wat jy reeds bereik het. 

Jy het nie nodig om jouself nog ’n keer te verduidelik nie, maar eerder om gemakliker te raak dat jy in elk geval nie verstaan word nie. Dalk is die groter lewe waarna jy streef ’n rustiger een.

Daar is ’n ander soort vryheid wat in jou lewe arriveer wanneer jy nie meer vra: “Wat kan ek nog in my lewe inpas?”, maar eerder: “Wat hoort nie meer hier nie?”

Wat kan jy neersit, nie omdat jy misluk het nie en nie omdat jy opgee nie. Maar omdat jy uiteindelik geleer het jy kan nie alles dra en steeds jou hande oop hê om te ontvang wat vir jou bedoel is nie.

Terwyl jy verskillende fases van jou lewe bereik, begin jy nie net jou lewe rommelvry kry nie, jy begin afgooi wat nie meer jy is nie. Elke hoofstuk vra iets anders van jou, sodat jy kan ontvang wat nou joune is en om te laat gaan is nie dieselfde as om te verloor nie. Ons laat gaan omdat dit ons nie meer dien nie. Jy laat vaar ’n verwagting, die rol wat jou nie meer pas nie. Die verhouding, die wrok wat jy koester, vrees, die definisie van sukses, weergawe van jouself. . . en dis nie ’n einde nie. Jy maak net plek, plek om te ontvang, anders is daar nie plek vir meer nie. Want minder is hoe jy eintlik meer word. Meer en ten volle jy.

Jou volgende hoofstuk is dalk nie om meer indrukwekkend te word nie. Dit gaan daaroor om meer teenwoordig te wees. Vreedsamer, eerliker en vryer. Jy hoef nie nog ’n laag by te voeg by wie jy is nie. Verwyder die lae wat nooit regtig jy was nie. 

Selfs die roosboom word gesnoei om plek vir mooier en nuwe rose vir die volgende seisoen te maak. ’n Boom word nie gesonder deur aan elke blaar vas te hou wat dit al ooit gegroei het nie. So maak plek vir wat volgende kom. Maak plek en wees wys en braaf genoeg om te weet wat jy uiteindelik kan laat vaar.

– Gasskrywer

[email protected]


* Beste lesers, keuring vir die ­publikasie van WhatsApp, briewe en alle ander lesers­bydraes berus by Republikein. Klagtes oor die diens van ­private besighede word eers aan die onder­neming vir reaksie voorgelê. Die menings van ons lesers en rubriekskrywers verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van Republikein nie. Republikein is ’n lid van die Redakteursforum van Namibië (EFN) en onderskryf die etiese kode vir die Namibiese media soos toegepas deur die media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2026-11-10

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer