Daar’s bloed aan die lentebloeisels
“Dis heerlike Lente, die Winter is verby… weer vrolik die velde. . .”
Die Baby Boomer-generasie voel sekerlik ’n huppel in die stap; ruik die vars bries by aanhoor van die liedjie.
Maar die lewe het oor dekades genadeloos en letterlik waardeloos geword, veral nadat Dot-kom met ’n tsoenamispoed gekom het.
Hier in die mooie Kaapprovinsie is dié ligte trant-liedjie amper ’n mite, ’n sprokie.
Die veld word steeds mooi, bome bot – ons Maker gaan klokslag in September Sy reuse-blommetapyt uitrol. Fotograwe en natuurliefhebbers drink die ongerepte mooi in.
Maar op die Kaapse Vlakte (en eintlik elke derde buurt) bring lente geen verskil. Dink jou in: Daar is ’n geesteshospitaal by name “Lentegeur”, baie gepas vir ’n vervalle siel om onder streng behandeling ’n kans van hernuwing te kan beleef.
Soos lentebloeisels in kleur paradeer en geure wals in die wind, drup bloed in die strate van Kaapstad. Geweld het soos ’n gapende wond geword.
Die knypvars lug verstik in buskruit, want hier is messteek té oers. Vuurwapens loop hanne-vier-voet. Ja, jou lewensdraad word gou-gou by ’n rooi verkeerslig geknip en dit vir ’n skamele paar rand en selfoon.
Die skole val nie meer onder “die mees veilige plek” nie – dis ’n normale slagveld van geweld.
Die oggendvoëlsang word brutaal gedemp deur skote, met noodlottige gevolge, want die polisiemag is uit proporsie vir die bevolking – hulle word ’n “MAGTELOSE” polisiemag. Dis maar net nóg ’n geval, aantekening van statistieke.
Werkloosheid trek bitter lyne op elke vyfde gesig, ongeag ouderdomsgroep. Vullisdromme is ’n 24/7-kafee vir haweloses. “Vader, ek soek net ’n kriesel kos, al is dit effens vrot” (dis ’n daaglikse smeekgebed wat pynlik in oë lê). Intussen spuug die goewerment se gesplete tong leë beloftes, jaar in, jaar uit.
Mans word oornag afgelê, want die ekonomie verswak by die dag. Geen kans vir ander werk want hy is bo 50 en dra die vervloekte bruin vel.
Hy is oornag vasgepen teen ’n betonmuur van onreg. So raak ’n tou uit die dak sy verlossing. En wat word van sy tienerkinders? Hulle beland op die straat vir vinnige geld in dwelmsmokkel of prostitusie – die siek siklus herhaal.
’n Jong honger en depressiewe brein kan nie meer normaal dink.
Sal die lenteliedjie net ’n laerskoolliedjie bly, want Kaapstad is ’n septiese wond. Aanloklik mooi op sosiale media vir toerismereklame.
Hoeveel bloed moet nog vloei, hoeveel haat moet broei voor ’n ommeswaai gebeur? Hoeveel gebede nog om die mooie Kaapstad te red?
Vandaar my gepaste gedig wat sekerlik die morbiede prentjie duideliker maak:
die Kaap se liggies
speel mot-en-kers
’n lokaas vir kwaad
Jesebel dans onbeskwaamd
in evas-gewaad
bloed raak die soetste wyn
en by môre-stond
baai buskruit braaksels
die môre-dou
’n tik-kop lag besete
sonder berou
Kaapstad
Jy’s ongetwyfeld blind, maar ruik jy die stank?
bloed lek jou strate
wyl land leiers toutjies trek
die onbevredigde vrate
jou buik ’n arena van euwel
wyl kniel-knel moeders ween
nóg ’n kind het gesnewel
– Gasskrywer


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie