Daar val niks te sê nie
Pedro Steenkamp
Gewone mense val van perde en donkies en fietse af en ouens wat te veel gedrink het, val van kroegstoele af. Nie ek nie. Ek val doodnugter van gewone kantoorstoele in kantoorure af.
Eintlik wou ek vandag oor die erns van die lewe geskryf het soos wat my kollegas gewoonlik doen. Maar erns is my nie beskore nie, so lyk dit my.
Destyds, toe ek nog na die seuns se ma gevry het, het ek vir aanstaande skoonpa Jan vertel van dié slag toe ek van die stoel af geval het. Met al die beduiery van presies hoe dit gebeur het, slaan ek jou wrintiewaar weer agteroor. Dit was ’n aaklige gevoel om jou aanstaandes so van onder af te beloer en nog steeds waardigheid te behou.
’n Week of drie of vier gelede was hier ’n mens tussen een en twee met ’n groot storie om aan my te vertel. Hy’t nog in alle erns vertel met redakteur wat toekyk, toe neuk my kantoorstoel met my agteroor. Ek het nog geaskies, maar die stomme vent had toe ’n ander storie om te vertel. Dié slag natuurlik vir sy vrou en kinders en kroegpêlle die aand.
Gister had ek darem ’n groter gehoor gehad voor wie ek ’n “fool” van my kon maak. Redaksie, bemarkers en nog ’n paar toeskouers ook. Redakteur was weer aan die woord en het kopstukke gepraat op die koerantvergadering.
Dit was ernstige oomblikke.
Daar neuk die stoel wraggies weer met my agteroor. Vrind Helge het nog probeer keer, maar vir die hoeveelste keer in my lewe lê en betrag ek toe weer die toeskouers vol opgekropte lag vanuit ’n simpel op-die-naat-van-my-rug-op-die-vloer-posisie.
Jy kan maar sê dat ek teen dié tyd ’n kundige is op die gebied van agteroorslaan met ’n stoel in ordentlike geselskap.
Ek kan byvoorbeeld haarfyn beskryf wat ’n man dink as sy stoel besig is om stadig maar seker agteroor te slaan en daar’s geen keer meer aan nie.
Eerste wat ek gewonder het, was of die ou denimbroek wat ek gister gedra het en wat styf span. Daarna het ek vir ’n vlietende probeer onthou of ek nie dalk die stukkende alleenloper-onderbroek die oggend aangetrek het nie.
Terwyl ek dar so op my rug gelê het en van onder af na die verbaas-starende gesigte gekyk het, het dit deur my gedagtes geflits dat niemand my sal glo nie. Hulle sal dink ek het in dié ernstige kantoorgesprek sit en slaap.
Laat een dônner net lag, dog ek toe vies. Pleks hulle maar openlik gelag het, dog ek toe agterna. Maar ’n ieder en ’n elk van die teenwoordiges gedra hom of haar toe soos iemand wat ’n glips in die kerk gesien of gehoor het. Dit kyk dié kant en daai kant toe met die hand voor die mond met sulke engel-uitdrukkings op die gesigte wat soort van sê: ’n Mens lag nie vir oumanne wat van die stoele afval nie. Netnou het die ou sy nek of been of arm of rug of iets gebreek.
Eintlik is dit ’n ernstige storie. Gewone mense ly aan allerhande manies en slegte gewoontes. Nie ek nie, ek val van kantoorstoele af in goeie geselskap. - 31 Julie 1996
* Wyle Dr. Jan Spies sou op Woensdag 29 Julie 90 jaar oud geword het.


Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie