No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Efesiërs 1:16-17: “Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon.”

Wanneer God iets “goed” noem, beteken dit meer as net die eerste skepping. God se “goed” het ons swakheid ontbloot en die Here na die kruis gelei. By Golgota, waar niemand goed is behalwe God alleen nie, het die Seun in ons plek gestaan en is Hy verlaat. Daar het ons val tot ’n einde gekom. Die oordeel is afgehandel.

God se Gees herskep ons lewens. In hierdie herskepping laat “goed” nie meer ’n wegval toe nie. Die Gees lei gelowiges nie na ondergang nie, maar na die lewe. Hy maak sondaars regverdig en gebrokenes heilig.

Alles ontvang ’n nuwe naam en ’n nuwe toekoms. Hierdie werk begin nie aan die begin van die geskiedenis nie, maar vloei uit die einde wat God reeds vasgemaak het. Die Gees begin nie met iets onseker nie. Hy voltooi wat klaar afgehandel is. Uit Christus se voltooide werk word alles nuut gebore. Versoening in Jesus is die beginpunt.

Herskepping bring steeds skeiding. Die Gees skei die ou mens van die nuwe mens.

Oepke Noordmans sê dat kennis van goed en kwaad nie meer na die dood lei nie, maar na opstanding. Volwasse gelowiges leer onderskeiding deur saam met die Gees te leef. Hier bereik die skepping sy doel. Die verskil tussen goed en kwaad word ’n gawe.

Here, herskep my tot u eer. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-03-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer