No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Lukas 12:6–7: “Word vyf mossies nie vir twee sent verkoop nie? Tog word nie een van hulle deur God vergeet nie.”

Ons het gebid, maar God het nie genees nie. Sommige vind troos daarin om te glo dat God ’n rede gehad het. Ander verloor hulle geloof. As God alles beheer, vra hulle hoekom Hy nie genees het nie, of hoekom een persoon aan kanker sterf terwyl ’n ander dit oorleef. Vir hulle is dit ’n wrede God wat hierdie uitkomste beplan.

Wat bedoel ons wanneer ons sê: “God is in beheer”? As dit beteken dat God elke detail bepaal, sou God ook verantwoordelik wees vir lyding en kwaad. Wanneer Jesus sê dat God mossies raaksien en die hare op ons kop tel, beteken dit nie dat God elke gebeurtenis veroorsaak nie. Dit beteken dat God omgee en sy skepping nooit vergeet nie, selfs wanneer daar slegte dinge gebeur.

Baie dinge gebeur teen God se wil. Dood en lyding was nie God se bedoeling nie. Dit het deur sonde die wêreld binnegekom. Tog het God dit nie daar gelaat nie. Jesus aanvaar nie die kwaad passief nie. Hy konfronteer dit, dryf dit uit en bevry mense. Die opstanding van Jesus wys dat God in beheer is. Selfs wanneer die kwaad lyk asof dit wen, bereik God sy doel wat siekte, dood en die bose oorwin. Dit kan ons sê: God gee om. God is teenwoordig. God staan by ons in ons lyding.

Here, dankie vir die oorwinning in Jesus Christus. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-08-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer