No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Romeine 8:28: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”

Ek het my toekoms met my sonde verwoes. Ek het swak keuses gemaak. Mense sondig. Is dit deel van God se plan? Nee. Josef se broers, Judas, die Joodse leiers, Pilatus en Herodes het gesondig. Hulle was verantwoordelik vir erge lyding en selfs die dood.

Het dit God se plan vernietig? Nee. God se reddingsplan ontspoor nooit nie. Hy bly in beheer en gebruik selfs menslike mislukking ten goede. Paulus sê dat God in “alles” aan die werk is. God is teenwoordig, selfs wanneer bose magte sy wil teëstaan. Wanneer mense ongehoorsaam is, gebruik God selfs weerstand en die gevolge daarvan in sy reddingsplan (Genesis 50:20).

God is nie ’n onpersoonlike lotsbestemming nie. Noodlot vernietig vryheid. God is persoonlik. Hy beskerm ons vryheid. Ons is nie marionette in ’n vaste draaiboek nie. Ons leef vry en verantwoordelik voor God. Hy roep ons tot gehoorsaamheid.

Na die opstanding het gelowiges die kruis as God se hand aan die werk gesien. Menslike mislukking en die misbruik van ons vryheid het nie God se reddingsplan ontspoor nie.

Jesus bied hierdie troos: Nie een mossie val buite die Vader se sorg nie. Elke haar op ons kop is getel (Matteus 10:29-30). Hy is teenwoordig en bly in beheer. Daarom kan ons hierdie Vader vertrou wat die hele wêreld in sy hande hou.

Dankie Here, dat U nooit beheer verloor nie. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-01-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer