No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

1 Petrus 4:19: “Daarom moet die wat volgens God se wil ly, hulself toevertrou aan die getroue Skepper en aanhou om goed te doen.”

Mense vra my dikwels moeilike teologiese vrae – vrae waarmee Christene al eeue lank worstel. Soms glo hulle dat ek ’n duidelike, finale antwoord moet hê. Dit het ek nie. Die Bybel self bied dikwels meer as een manier om dieselfde onderwerp te verstaan. Neem byvoorbeeld lyding. Is lyding God se manier om ons te dissiplineer? Is dit bedoel om ons te help om meer op Hom te vertrou en te groei? Of maak ons lyding dit moontlik om ander te ondersteun wat iets soortgelyks deurmaak?

Die Bybel noem oor al hierdie moontlikhede, maar die antwoord hang af van die situasie en die aard van die lyding. Daar is geen eenvoudige antwoorde nie.

Elke persoon moet sy eie pad stap en betekenis in sy eie ervaring ontdek.

Mark Twain se woorde is insiggewend: “Dit is nie die dele van die Bybel wat ek nie verstaan wat my pla nie, dit is die dele wat ek wél verstaan.”

Baie dele van die Bybel is moeilik omdat die wêreld van die Bybel so anders is as ons wêreld van vandag. Ander dele is egter baie duidelik en dit kan ongemaklik wees.

Byvoorbeeld, Petrus praat van lyding vir Christus. Jesus se mense moet moeilike tye, verwerping en onreg verwag. Dit kan ons ontstel. Dit konfronteer ons ook met ’n belangrike vraag: Is hierdie soort lyding ’n probleem of ’n voorreg?

Here, gee my die moed om U in alle omstandighede te vertrou. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-03-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer