No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

1 Johannes 4:12: “Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.”

Ek het onlangs ’n artikel getiteld “From Like to Love” gelees. Dit handel oor hoe organisasies deur lojaliteitsprogramme egte lojaliteit aan ’n handelsmerk kan kweek. Die meeste programme misluk hierin. Swak pryse, slegte diens en onregverdige reëls breek enige pogings af. Swak ontwerpte programme skep net kortstondige goeie gevoelens, soos vinnige “likes” op sosiale media. Goeie ervarings (soos punte, afslag of geskenke) laat jou dalk vir ’n oomblik beter voel, maar dit hou nie.

Programme wat werk, gaan verder as eenmalige belonings. ’n Koffiewinkel kan begin met gratis belonings, maar bou egte lojaliteit deur mense persoonlik te ken, regverdige praktyke te hê en regtig om te gee. Kliënte voel dan dat hulle raakgesien en gewaardeer word en dat hulle deel is van iets betekenisvols.

Dit laat my dink aan die kerk. Baie mense woon getrou dienste by, maar party is onbetrokke en ander geniet dit glad nie. Hoe beweeg ons mense van onbetrokkenheid na “hou van” en uiteindelik na liefde – nie vir die instelling nie, maar vir God self? Die Bybel is duidelik: Mense ontmoet God wanneer ons hulle liefhet soos God hulle liefhet.

Dostojewski het dit mooi gestel: “Wees lief vir iemand, selfs in sy sonde, want daardie liefde is ’n weerspieëling van die goddelike liefde en is die hoogste vorm van liefde op aarde.”

Here, laat U liefde deur my skyn. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-06-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer