No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Filippense 3:7: “Maar wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus.”

Op ’n vlug het ek ’n artikel in ’n vlugtydskrif gelees oor ’n bekende dokter in Suid-Afrika wat oor lewenskwaliteit gepraat het. Hy het vertel van sy Christen-ouers.

Hulle het die evangelie getrou gedeel, was gasvry, het raad gegee en met oop harte en oop deure geleef. Hy het by hulle geleer hoe ware diens lyk. Dit was daar waar sy roeping om ’n dokter te word begin vorm aanneem het.

Een sin uit die artikel het by my bly vassteek: “Ek dink minder aan hoeveel jare ek nog oorhet, en meer aan watter soort lewe ek in daardie jare wil leef.”

Alhoewel dit in die konteks van ’n gesonde leefstyl gesê is, verwoord dit ’n baie basiese waarheid vir ons as Christene. Soos ek ouer word, raak ek al hoe meer bewus daarvan dat my dae getel is. Ambisie en prestasie, die leë najaag na titels, posisies of drome het onaantreklik geword. Wat saakmaak is met watter doel ek lewe.

Aan die begin van hierdie jaar is my begeerte dié van Paulus: Om Christus beter te leer ken en in gemeenskap met Hom te groei. Deur Hom te ken, leer ek om beter lief te hê en getrouer te dien.

Here, laat my lewe nie gemeet word aan my ouderdom nie, maar aan toewyding aan Christus en aan dié wat U my roep om te dien. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-02-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer