No Image Caption

BYBELSE WYSHEID

Mandy Rittmann
DR. ANNES NEL

1 Johannes 4:12: Niemand het God nog ooit gesien nie, maar as ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons sy doel volkome bereik.

Alister McGrath skryf dat die evangelie dikwels verwerp word, nie omdat dit sonder waarheid of onsin is nie, maar omdat mense pynlike herinneringe uit die verlede saamdra. Vir baie het daardie herinneringe niks met Christus self te doen nie, maar eerder aan die dade van mense wat beweer het dat hulle Hom verteenwoordig.

Johannes herinner ons daaraan dat God se teenwoordigheid sigbaar word wanneer ons mekaar liefhet. Waar liefde geleef word, woon God onder ons en bereik sy liefde God se doel daarmee.

Met Kersfees vier ons met vreugde God se liefde, geduld en genade wat in Jesus Christus openbaar is. Tog bly ’n ongemaklike vraag staan: ervaar mense dieselfde liefde binne die kerk? Die verwagtinge wat aan Christene gestel word, is nie onredelik nie. Die geloofsgemeenskap behoort ’n plek te wees waar goedheid oor boosheid seëvier, liefde oor haat en versoening oor geweld. Ongelukkig vertel die geskiedenis ’n meer ingewikkelde verhaal. Te dikwels is geloofsgemeenskappe verbind met verdeeldheid, uitsluiting en erge seerkry.

Kersfees roep ons tot iets beter. Die geboorte van Christus nooi ons nie net om ’n oomblik uit die geskiedenis te onthou nie, maar om God se versoenende liefde te beliggaam. As ons nie werktuie van sy liefde is nie, is ons Kersvieringe leeg.

Here, vorm ons deur u Gees om liefde te leef.

Kommentaar

Republikein 2026-05-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer