No Image Caption

Bybelse wysheid

God se hart
Dr. Annes Nel
Dr. Annes Nel

Johannes 14:9: Wie My sien, sien die Vader.

Toe Moses God in Eksodus 3:13 na sy Naam vra, het hy in werklikheid gevra dat God sy wese openbaar. God antwoord met ’n werkwoord: “Ek is wat Ek is,” of, “Ek sal wees wat Ek sal wees” (3:14). “Ek is,” “Ek sal wees,” “Ek sal met julle wees,” volg daarop. God weier Moses se versoek op ’n sagte manier. God se wese kan nie in ’n naam vasgevang of deur mense begryp word nie. In plaas daarvan om ’n definisie te gee of sy verborge innerlike wese bekend te maak, maak Hy Homself bekend deur sy merkwaardige dade.

Advent herinner ons daaraan dat God Hom volledig in Jesus Christus bekend gemaak het. Jesus self openbaar die betekenis van God se Naam (Johannes 17:6). En al sê Jesus: “Wie My sien, sien die Vader,” sê die Bybel dat niemand God gesien het nie. Ons noem God “ons Vader”, maar bely steeds dat Hy “in die hemel” is (Matteus 6:9). In Jesus ontmoet ons God self—nie net inligting oor Hom nie. Hoewel God sy wese vir Homself hou, is die geheimenis tog geopenbaar (Kolossense 1:27).

Hendrikus Berkhof skryf dat God se openbaring in Christus nie ’n lukrake deel van God se wese is nie, maar tot in die hart van God deurdring. Laat ons vier dat ons die Vader en sy hart sien in Jesus wat vir ons gebore is.

Dankie, Here Jesus, dat U vir ons God se hart wys. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-12-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer