Bybelse wysheid
Bybelse wysheid

BYBELSE WYSHEID

Mandy Rittmann
DR. ANNES NEL

Jesaja 64:1: As U maar die hemel wou oopskeur en wou afkom. . .

Ek het God nodig. Miskien jy ook? Hoe wens ek nie dat God die hemele sou oopskeur en afkom nie! Ons wêreld is in ’n diep gemors.

Advent herinner ons egter dat God wél in Christus gekom het. Die Switserse teoloog Karl Barth skryf dat die profete God se heiligheid en totale andersheid verkondig het. Daar is ’n oneindige kloof tussen God en die mensdom. God is die “gans Andere” – nooit identies met enigiets wat ons ervaar, aanbid of kan voorstel nie.

Tog, sê Barth, openbaar God Homself in Christus. In Hom word daardie enorme kloof oorbrug. Hierdie openbaring kom “van bo”, ’n skielike en onverwagse inbreek van God se werklikheid in ons wêreld. Later skryf Barth dat God verhewe en vry is, maar sy goddelike vryheid is die vryheid om lief te hê. In Christus wys God Homself as die Een wat vrylik, genadiglik en onvoorwaardelik liefhet.

God is nie ’n abstrakte idee nie. In Christus word elke skeiding tussen God en mens oorkom. Christus beliggaam God se ware wese as die mensdom se bondgenoot. Sy godheid is duidelik in sy bereidheid om nie net Homself nie, maar ook ons lief te hê.

Advent roep ons om hierdie liefde uit te leef – om vir ander te leef. In ons liefde kan mense ontdek dat God inderdaad die hemel oopgeskeur het. Ons leef nie meer vir onsself nie, maar vir die Een wat een van ons geword het.

Here, maak my meer soos U. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer