No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Galasiërs 6:2: “Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.”

Gelowiges wat mekaar se laste dra, is mense wat onder leiding van die Gees leef (6:1). Die vraag is nooit óf mense gaan sondig nie – dit is die werklikheid van die menslike lewe – maar of ons bereid is om te help. Hierdie hulp moet altyd in ’n gees van sagmoedigheid en nederigheid geskied, want enige een van ons kan op enige stadium val (6:1).Om iemand anders se las te dra, beteken egter meer as om net in hulle swaarkry te deel.

Die Nederlandse geleerde J. P. Versteeg wys daarop dat dit ook insluit dat ons mekaar help om die gewig van ons sterkpunte, vermoëns en geestelike gawes te dra. Mense met besondere gawes kan maklik hoogmoedig word (6:3, 4). Begaafde mense moet liefdevol begelei word om te besef dat hulle die gawes ontvang het om die Here en sy mense te dien.

Baie mense dra in stilte hulle pyn – soms omdat die lewe hulle seergemaak het, en soms omdat hulle dit aan hulself gedoen het. Hulle voel dikwels alleen en ondervind ongelukkig min meegevoel van Christene. As mense wat deur die Gees gelei word, veral in hierdie Adventstyd, word ons geroep om mekaar te ondersteun: Om by dié wat swaar laste dra te staan; om dié wat teen sonde stry, aan te moedig; om dié wat deur trots verlei word, reg te help.

Heilige Gees, gee my die genade om ander met sagmoedigheid te help. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer