No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Miga 4:3: “Hy sal oordeel tussen baie volke, regspreek oor sterk nasies wat ver weg woon.”

Te midde van die onreg in politiek, moraliteit en godsdiens bring die profeet ’n boodskap van hoop vir dié wat ly. Jerusalem, die stad van God, word die middelpunt van alles, waar God Homself openbaar en waarheen nasies stroom om sy openbaring te hoor (4:2). Hier regeer die Here (4:7).

Die gevolge van sy heerskappy is duidelik. Dit is ’n koninkryk van vrede. Hy sal oorlog en onreg beëindig (4:3). Hy sal dié wat weggestoot en seergemaak is as gevolg van sonde as sy mense aanneem (4:6,7). Die wapens van oorlog sal gereedskap word wat vrede herstel (4:3). Elke lid van God se volk sal voorspoedig wees. Om onder jou eie wingerd te sit, het absolute vrede, rustigheid en voorspoed gesimboliseer (4:4).

’n Mens sonder hoop is soos iemand wat voortydig sterf – lewend, maar sonder verwagting vir die toekoms. Omstandighede kan ’n negatiewe uitwerking op ons hê. Tydens Advent draai God ons fokus weg van ons pyn na die nuwe toekoms wat Hy deur Christus, die Vors van vrede, bewerkstellig het. Dit gee aan ons ’n nuwe perspektief op ons omstandighede. Dit open ons oë vir die wêreld wat God sal vestig. Die musiek van God se genade vul ons bedompige daaglikse lewens met hoop. Mag dit ook vandag met jou gebeur!

Vader van genade, ek prys en verheerlik U vir die hoop wat ons in Christus het. Amen.

Kommentaar

Republikein 2026-01-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer