No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Matteus 1:21: “Sy sal ’n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”

Flip Theron skryf dat om aan myself of aan Satan te behoort dieselfde gevangenskap is. Satan draai my na binne en ketting my aan my eie gebrokenheid vas. Dis ’n vreeslike slawerny.

In hierdie wêreld het Jesus gekom – ’n gewone naam wat Verlosser beteken. Dit het herinner aan die baie kere wat God sy volk deur gewone mense gered het. Maria het egter geweet hierdie Kind was nie gewoon nie. Die Heilige Gees het Hom in haar verwek (Matteus 1:20; Lukas 1:35). Die engel het ook gesê dat hierdie Kind uit die geslag van Dawid sou wees. Maria moes gewonder het wat dit vir Israel beteken, ’n volk wat lank na verlossing onder Romeinse heerskappy gesmag het. Baie het ’n politieke bevryder verwag. Van die begin af was Jesus egter anders as enige gewone koning. Sy koningskap sou nooit eindig nie. Sy sending was nie politieke bevryding nie maar redding van sonde (Matteus 1:21).

Min het dit verstaan. Uiteindelik het hulle Hom verwerp toe Hy nie aan hul aardse verwagtinge voldoen het nie.

Wie is Hy vir jou? Om in Jesus te glo, is om gered te word. Ek is bevry van myself, van my sonde, en van die mag wat my gevange gehou het.

Here, Verlosser, dankie dat U my van myself gered het. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer