No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Job 38:1: “Toe het die Here vir Job aangespreek uit ’n stormwind uit. . .”

Hoe dikwels verlang mense in die storms van die lewe na daardie oomblik wanneer God uiteindelik verskyn, praat en hul situasie oplos? In hierdie verhaal verskyn God op ’n klassieke Ou-Testamentiese manier: Hy kom in ’n storm. Sal Hy duidelike antwoorde gee?

Nee, Hy antwoord nie Job se vrae direk nie. In plaas daarvan wys Hy vir Job wie Hy is. Hy openbaar sy krag, sy wysheid en sy karakter. Daarna begin God vir Job baie vrae vra en neem hom op ’n reis deur die skepping – van die begin van die wêreld tot na die hemel, die land en die see. As Job werklik alles verstaan, behoort hy hierdie vrae te kan beantwoord!

God se stem uit die storm het ’n doel: Om Job te laat besef hoe groot God is en hoe beperk menslike kennis is. Baie mense wat ly, kry nooit die antwoorde waarop hulle hoop nie. Dikwels kan hulle net vashou aan die waarheid dat God steeds God is en dat Hy by hulle is. Sy teenwoordigheid bring rus en help ons om Hom te vertrou.

God het in ons lyding kom staan deur sy Seun. Jesus het pyn en onregverdige lyding aan die kruis verduur. Hy het God se afwesigheid ervaar. Ons kry dalk nie die antwoorde wat ons wil hê nie, maar ons kan seker wees dat Hy by ons is en verstaan.

Here, dankie dat U in Christus by ons is. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-12-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer