No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Kolossense 3:12: “Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie liefhet. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees.”

Iemand het eenmaal vir Dorothee Sölle gevra of sy glo dat mense kan verander. Sy het geantwoord: “As ek nie glo dat mense kan verander nie, glo ek nie in God nie.”

’n Lewe tot eer van God fokus nie voortdurend op ons gebrokenheid nie. Voortdurende aandag op sonde versterk dikwels juis dit wat ons wil oorwin.

Ons lewens moet eerder met die eienskappe beklee word wat die gawe van nuwe lewe vertoon. Paulus beskryf ons as God se uitverkore mense – ’n uitdrukking van suiwer genade. Dié wat in hierdie genade leef, dra nuwe klere.

Waar daar eens selfgerigtheid was, is daar nou meelewing met ander se nood. Waar woede, haat, afguns, vloek en trots geheers het, is daar nou welwillendheid, sagmoedigheid, geduld en verdraagsaamheid. Rusies maak plek vir vrede. Verdeeldheid en vyandskap word vervang deur liefde.

Kwetsende woorde en ’n lewe waarin elkeen vir hom- of haarself leef, wyk voor vergifnis. In plaas daarvan om onsself as ons eie afgode te dien, leer ons om God te dank. Ons kan hierdie verandering nie deur eie krag bewerk nie.

Paulus herinner ons voortdurend aan wie ons reeds is: God se mense. God kan doen wat onmoontlik lyk. As jy daaraan twyfel, vra jouself of jy enigsins in God glo.

Here, dankie dat U my deur u Gees verander. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-11-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer