No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Rigters 6:15: “Ekskuus, Meneer, waarmee sal ek die Israeliete gaan red? Die familie waaraan ek behoort, is die armste in die hele Manasse, en van my pa se kinders het ek die minste aansien.”



God roep, maar ons huiwer. Gideon se huiwering moet nie verwar word met nederigheid nie. Dit is weerstand. Dwarsdeur die verhaal sien ons hoe hy na ’n uitweg soek, telkens God se krag bevraagteken en twyfel aan die waarheid van God se woord. Gideon probeer alles om die opdrag te vermy. Hy wil dit vertraag of ontduik.

Hierdie patroon is bekend. Die Bybel wys herhaaldelik hoe God mense roep en hoe hulle met traagheid reageer. Die Here is die God van die verbond, die Een wat Hom onherroeplik aan sy volk verbind het (6:8-9). Hy gaan voort met sy verlossingswerk in die wêreld en kies om dit deur brose, onvolmaakte mense te doen.

Tog val ons, in plaas daarvan om sy roeping te omhels, maklik terug op verskonings: “Ander is meer begaafd – stuur hulle,” of “Ek weet wat die Here verwag, maar dit pas nie nou nie”. Ons eie prioriteite word belangriker as sy plan. Gemak of vrees bepaal ons reaksie.

Ons kan eindelose redes uitdink om nie God se werk te doen nie, maar niks daarvan dra werklik gewig nie. Hy beloof om saam met ons te gaan (6:16). Geen verskoning of mag kan teen Sy bevel staan nie.



Dankie, Here, dat my swakheid of onwilligheid U nie keer om my te roep nie. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer