No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Efesiërs 2:8: “Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God.”

Geloof is nie ’n natuurlike, ingebore vermoë nie. Dit is ’n gawe – vrylik en genadiglik deur God gegee. Die skild van geloof wat ons dra, is in die hemel self vervaardig. Geen mag kan dit vernietig nie.

Geloof kyk weg van die onsself – ons swakheid, sonde en tekortkominge. Dit kyk na Jesus Christus, die inhoud van ons geloof. Deur Sy bloed het ons vergifnis, lewe en ewige hoop. Dit sê: “Ek kan myself nie red nie. My krag, geregtigheid en hoop is alles in Jesus.”

Charles Spurgeon het dit pragtig gestel: “Onthou, sondaar, dit is nie jou vashou aan Christus wat jou red nie – dit is Christus. Dit is nie jou blydskap in Christus wat jou red nie – dit is Christus. Dit is nie eens jou geloof in Christus wat jou red nie – dit is Christus.” Ons kyk nie na ons geloof nie, maar na die Een wat ons gered het.

Martin Luther vergelyk die gelowige met ’n arm man in ’n leë huis wat ’n dief in die donker vang en lag en sê: “Jou dwaas! Ek het niks hier nie! Jy soek geld in ’n leë beursie. My krag is nie myne nie – dit is die Here s’n.”

In Christus alleen is ons hoop, ons krag, ons geregtigheid, ons verlossing vir ewig.

Here, ek prys U vir u genade. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer