No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Efesiërs 1:13-14: Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het. . .”

As geloof deel is van die wapenrusting van God, wat is geloof? Geloof kyk nie na binne – na hoe sterk of swak ons geloof is nie. Geloof is ons reaksie op die goeie nuus van Jesus Christus.

Paulus herinner ons in Efesiërs 1:13-14 dat geloof gebore word wanneer ons die boodskap van verlossing hoor. Deur geloof gee God ons iets van onskatbare waarde: Die versekering dat ons vir ewig veilig is.

Die Heilige Gees is beide ’n seël en ’n waarborg. In Paulus se tyd het ’n seël bewys dat ’n bevel van die keiser gekom het – finaal en onveranderlik. ’n Waarborg was ’n deposito wat gewaarborg het dat die ander betalings sou volg. Net so is die Heilige Gees die bewys dat ons werklik aan Hom behoort en sy beloftes vervul sal word.

Geloof is dus ons reaksie op hierdie groot boodskap: God het ons in Christus liefgehad voordat ons bestaan het. Ons is deur Jesus se bloed vir ewig gered.

Die Heilige Gees verseël daardie waarheid vir ewig. Ons behoort aan God. Niks kan dit verander nie. In die oorspronklike Grieks vorm hierdie verse een lang, vreugdevolle sin. Paulus kan nie ophou om God se genade te prys nie! Kom ons doen dit vandag!

Heilige Gees, dankie dat U my vir ewig as U s’n verseël het. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer