No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Eksodus 8:22: “Maar dié dag sal Ek ’n uitsondering maak van die Gosenstreek waar my volk woon. Dáár sal nie ’n enkele steekvlieg wees nie, dat jy kan besef dat Ek, die Here, in die land is.”

Sommige mense is hardkoppig, ander nie. Farao was hardkoppig. Die plae wat God na Egipte gestuur het, moes hom oortuig om Israel vry te laat. Dit het in intensiteit toegeneem. Tot dusver was Moses en Aäron die instrumente vir die plae, maar hier tree die Here self direk op (Eksodus 8:24).

Die plaag van steekvlieë was so verskriklik dat Farao uiteindelik begin onderhandel het (8:25). Egipte is lam gelê (8:24). Tog het die gebied Gosen, waar God se volk gewoon het, onaangeraak gebly. God wou hê dat Farao moes sien dat Hy alleen Here is – selfs in Egipte (8:22).

Tog het Farao se hart nie verander nie. Hy het Moses gevra om te bid dat die plaag moet stop. Toe dit gebeur, het hy weer sy belofte verbreek. Hy het Moses – en God – vir sy eie voordeel gebruik.

Hierdie storie herinner my aan die gelykenis van die saaier (Matteus 13). Soms lyk dit asof geloof groei, maar dit vervaag vinnig wanneer omstandighede verander. Farao se hart was nie vrugbare grond nie.

William Barclay skryf: “Die tragedie van die lewe en van die wêreld is nie dat mense God nie ken nie; die tragedie is dat hulle, al ken hulle Hom, steeds daarop aandring om hul eie pad te volg.”

Here, ek erken U as my Here. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-11-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer