No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Romeine 5:11: “Maar dit is nie al nie. Ons verheug ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening ontvang het.”

Die popgroep Mike and the Mechanics sing dat ons bedelaars op ’n goue strand is. Hierdie beeld praat met my. Daar is oomblikke wanneer niks my hart roer nie, wanneer entoesiasme en vreugde ontbreek. Ek is skaam daaroor. Ek wag dat iets buite myself my gelukkig moet maak en ek vergeet dat ek reeds omring is deur goud – die goud van God se genade. Ek is nie alleen in hierdie stryd nie. Baie mense vind vreugde slegs in tydelike dinge of in die sogenaamde blydskap wat met ’n drankie of twee kom.

Paulus herinner ons daaraan dat ware vreugde lê in wat ons ontvang het – verlossing, vryspraak en versoening (Romeine 5:10–11). Dit is alles goue gawes. Selfs wanneer lyding ons tref, kan ons bly wees (5:3), want geen pyn kan die hoop op die ewige lewe van ons wegneem nie (5:2). God se heerlikheid was eens vir ons verbode (3:21), maar nou belowe Hy dat ons daarin sal deel – alles uit genade, nie deur eie verdienste nie.

Die skrywer Sheldon Vanauken het gesê die beste bewys vir die Christendom is Christene self – hulle vreugde, sekerheid en heelheid. Vreugde behoort ons lewe te kenmerk as ’n weerkaatsing van God se goedheid.

Here, herstel in my die vreugde van u evangelie, ter wille van Jesus. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer