No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Romeine 3:25: “Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo.”

Godslastering skok ons wêreld nie meer nie. Die Naam van die Here word voortdurend misbruik in spraak, vermaak en die alledaagse lewe. Ongelukkig besef baie Christene nie dat ons ’n soortgelyke sonde pleeg wanneer ons die betekenis van verlossing verdraai nie. Ons bely almal dat Christus alleen ons Verlosser is, maar dikwels verskuif ons die klem na ons eie geloof – asof ons redding bewerk word deur ons geloof.

Vir Paulus is geloof nie ’n krag binne ons wat red nie. Dit is die erkenning dat Christus alleen red. Ware geloof kyk weg van die self en klou vas aan Hom wat die verlossing gebring het en wat ons uit genade regverdig verklaar (Romeine 3:24). Daarom is geloof geen rede tot hoogmoed nie (3:27–28), want dit sluit alle menslike verdienste uit. Dit is die belydenis dat ek niks kan bydra tot my verlossing nie. Christus het alles volbring.

Om te dink dat geloof self God se guns verdien, beteken dat Jesus se verlossingswerk onvolledig is – dat Hy slegs gedeeltelik red en die res van ons afhang. Só ’n gedagte is vals en godslasterlik. ’n Ou belydenis uit die 17de eeu stel dit pragtig: “Geloof omhels Jesus Christus met al sy verdienste, maak Hom ons eie en soek niks buite Hom nie.” Christus is óf ons volkome Verlosser, óf glad nie.

Here, dankie vir die vrede wat ons net in U vind. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-11-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer