No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Romeine 4:25: “Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.”

Martin Luther het gesê dat regverdigmaking deur geloof die waarheid is waarby die kerk staan of val. Die boodskap van Jesus Christus hang af van die vraag of ons deur God se genade of deur ons eie goeie werke gered word. As ons God deur ons eie pogings of prestasies kon bereik, sou Christus nie nodig gewees het nie. Dit is wat Paulus bedoel wanneer hy sê dat geloof en God se belofte hulle betekenis verloor as verlossing deur die nakoming van die wet kon plaasvind (Romeine 4:14).

Geloof is daarom onlosmaaklik verbind aan God se belofte – die belofte dat Hy mense vergewe en aanvaar wat nie die wet kon nakom nie. God het hierdie belofte uit genade aan Abraham gegee, lank voordat Abraham die wet geken het. Abraham se reaksie van geloof was ook ’n gawe van genade (Romeine 4:16), want dit was God wat eerste na hom uitgereik het.

Dink daaraan so: jy kan nie iemand antwoord tensy iemand jou eers roep nie. Die keuse om te roep lê by die een wat roep. Dit is presies wat God met Abraham gedoen het – Hy het hom geroep lank voordat Abraham enigiets van God se gebooie geweet het. Daarom is Abraham die geestelike vader van almal wat glo – ongeag of hulle die wet oortree het of dit probeer onderhou.

Die vraag vandag is: Glo jy dat jy uit genade alleen deur Jesus Christus vergewe is?

Dankie, Vader, dat U my deur u genade alleen gered het. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-12-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer