No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Matt 26:41,56: “Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is gewillig, maar die vlees is swak. Toe het al sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop.”



Jesus veroorsaak verskillende reaksies onder mense. Sommige is opgewonde oor Hom. Ander wil niks met Hom te doen hê nie. Soms is hierdie aksies baie subtiel.

Dis nie ’n nuwe verskynsel nie. Opgewondenheid oor Jesus oorheers die eerste deel van Matteus se evangelie. Hier is iemand wat genees! Hier is iemand wat, anders as die fariseërs, met gesag onderrig (7:28,29). ’n Mens kan na Hom luister en ’n mens kan Hom volg.

Die keerpunt kom in Matteus 16 nadat Petrus bely het dat Jesus die Christus is, die Seun van die lewende God. Jesus het begin verkondig dat Hy sou sterf (16:21). Van toe af begin die sistematiese verwerping en vervolging van Jesus, wat uitloop op die kruis. Dit begin by die planne van die godsdienstige leiers. Dan volg die skare en uiteindelik is die dissipels ook deel daarvan.

Die verwerping van Jesus begin by klein dingetjies – soos in die tuin van Getsemane. Die dissipels het aan die slaap geraak terwyl hulle meester gely het.

Dietrich Bonhoeffer skryf dat sommige die onbegryplike slaap in Getsemane slaap, ander verraai hom en uiteindelik verlaat alle dissipels hom en hardloop weg.

Waak en bid dat jy by Jesus sal bly en nie die geskiedenis sal herhaal nie.



Here, leer my om myself heeltemal met U te identifiseer, in Jesus se Naam. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-10-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer