No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Eksodus 5:2: “En wie is die Here dat ek na Hom sou luister om Israel te laat gaan?”



So sê die Here: “Laat my mense gaan.” Die farao word uitdruklik beveel om Israel vry te laat sodat hulle die Here kan eer (5:1).

Ons kan verstaan dat die farao skerp reageer. Eerstens sal hy geen bevel van slawe aanvaar nie. Moses en Aäron se woorde daag sy gesag uit. Tweedens ken hy nie die God van Israel nie. Egiptiese gode en konings was bondgenote, terwyl die God van die Hebreërs verbind is aan ’n kwesbare, verslaafde gemeenskap. Waarom sou hy na Hom luister?

Die tweede gesprek versag ietwat. Nou probeer die leiers van die Hebreërs ’n ander taktiek (5:3). Hulle doen ’n beroep op sy emosies en dring daarop aan dat hulle hierdie God moet aanbid, anders sal Hy hulle straf. Die farao se reaksie is meer tentatief, maar hy is nie oortuig nie. Hy sou ’n groot werksmag verloor as hulle lui raak. As straf gee hy strenger, meer onrealistiese bevele aan die slawedrywers (5:6-9). Die lyding van die Hebreeuse slawe word erger.

Die harde waarheid bly staan: Baie heersers ignoreer vandag nog God se woord en God se mense ly as gevolg daarvan. Tog word ons geroep om ’n pad van geloof te loop, in die vertroue dat, selfs wanneer die uiteinde sleg lyk, God steeds aan die werk is. Hy het reeds die bose in Christus oorwin.



Gees van God, hou geloof in my hart, selfs wanneer omstandighede moeilik raak. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-10-31

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer