Bybelse wysheid
Bybelse wysheid

BYBELSE WYSHEID

Mandy Rittmann
DR. ANNES NEL

Psalm 145:13: U koningskap is 'n koningskap vir alle tye, u heerskappy strek oor die geslagte heen.

Die Romeinse keiser in die tweede eeu, Marcus Aurelius, het gesê dat angs oor enigiets buite ons die ervaring van pyn kan veroorsaak. Hierdie pyn is nie die gevolg van daardie spesifieke uiterlike saak nie, maar van ons eie beoordeling daarvan. Ons het die mag het om ons oordeel oor hierdie situasie enige tyd te laat vaar.

Wanneer ons vasgeketting is deur ons ingesteldheid, kan ons nie goed sien nie. Realisme sonder geloof lei tot pessimisme. Realisme van geloof lei tot hoop. Met ons geloofsbril op, lyk die werklikheid anders en verander ons perspektief.

Die digter van Ps. 145 neem ons aan die hand en wys vir ons dat God regeer. Geslag na geslag toon God se getrouheid, ten spyte van omstandighede. Oliver Cromwell se sekretaris was eenmaal op ’n baie belangrike reis. Hy het slapelose nagte gehad en was baie angstig. Hy het een van die amptenare wakker gemaak wat saam met hom gereis het. Hy het hom vertel hoe angstig hy was en dat hy die gevoel het dat iets verskrikliks op hierdie reis sou gebeur.

Die amptenaar het toe drie vrae gevra: ‘Het God geregeer voordat ons gebore is? Sal God regeer na ons dood?’ Elke keer het die sekretaris ‘ja’ geantwoord.’ Die man het gesê: ‘Hoekom sal God nie nou in hierdie nag en op hierdie reis regeer nie?’ Die sekretaris het teruggegaan en rustig aan die slaap geraak.

Here, leer ons om met nuwe oë na ons omstandighede te kyk, in Jesus se Naam.

Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-12-06

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer