No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Johannes 8:10-11: “‘Mevrou, waar is hulle? Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?’ ‘Niemand nie, Here,’ sê sy. Toe sê Jesus: ‘Ek doen dit ook nie. Gaan maar, en moenie van nou af meer sonde doen nie.’”

C.S. Lewis skryf ons het soms daardie deernis van ander nodig – die Goddelike liefde self – wat liefde gee aan iemand wat nie waardig is om liefde te ontvang nie. Dan sê hy: “Sommige van ons het dit die meeste van die tyd nodig.”

Baie mense voel hul verlede tel teen hulle. Hulle ervaar op verskillende maniere dat die samelewing sy rug op hulle gedraai het. Dink aan die geweldige angs van die vrou wat in owerspel betrap is. Watter ander opsie was daar as om haar te stenig? Dis wat die wet voorgeskryf het (8:4-5).

Maar Jesus bied ’n ander moontlikheid: Vergifnis (8:10). Hy praat met die hart van die vrou wat in ’n nimmereindigende siklus van owerspel vasgevang was. Hy vergewe haar onvoorwaardelik.

Ons maak elke dag ons oë oop vir ’n wêreld vol mense wat smag na aanvaarding en vergifnis. Soms voel dit vir hulle asof God se vergifnis geen verskil maak nie, want die wêreld, die kerk, die Christene vergewe hulle nie.

’n Paar woorde uit ’n gesang van Isaac Watts lui soos volg: “Now to my soul, immortal King, Speak some forgiving word...”

Laat ons vandag die kanale wees van hierdie wonderlike vergifnis.

Here, laat ons vergewe so volkome soos U – sodat mense kan oor begin, in Jesus se Naam.

Kommentaar

Republikein 2025-12-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer