No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Romeine 6:1: “Wat moet ons nou hiervan sê? Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem?”

Kan God se onvoorwaardelike genade ons onverskillig oor ’n heilige lewe maak? As Jesus se dood en opstanding ons verlossing waarborg en niks anders nie, dink sommige mense dit kan wel gebeur.

Paulus en die kerkvaders verskil van hierdie siening. ’n Ou belydenis beklemtoon wanneer ons deur geloof in Christus ingeplant is, dit onmoontlik is om nie vrugte van dankbaarheid te dra nie. Hulle het Paulus se standpunt teen sy teenstanders in Romeine verdedig en erken genade kan verkeerd verstaan word as ’n lisensie om te sondig. Daarom skryf Paulus: “Moet ons aanhou sonde doen sodat die genade kan toeneem?” (Romeine 6:1).

Mense wat genade só interpreteer, mis die betekenis van die doop (Romeine 6:4) en verstaan nie hulle eenheid met Christus nie (Romeine 6:5).

Eenheid met Christus beteken ’n verlange na lewe, nie na die dood nie, want ons is saam met Hom opgewek en deel deur geloof in die vrugte van daardie opstanding. Ons ou mens is begrawe. God hou nie meer rekening daarvan nie. Dié wat uit die dood opgestaan het, leef nou vir God.

Onverskilligheid teenoor ’n heilige lewe as gevolg van genade? Nee, dit is onmoontlik. Genade maak ons nooit passief nie. God se genade bring ons in beweging om Hom met ons hele hart te dien en lief te hê.

Here, gee dat ek uit my nuwe identiteit sal leef. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-09-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer