No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Eksodus 3:19: “Ek weet dat die Egiptiese koning julle nie sal laat gaan nie, selfs nie onder dwang nie.”

Eksodus is ’n verhaal van mense op ’n reis – ’n voortdurende beweging na bevryding. Dit beklemtoon herhaaldelik dat God in beheer van elke tree is en vryheid uiteindelik God se werk is, nie die mens s’n nie. Terwyl God verlossing en ’n beloofde land belowe (3:17), is die pad na vryheid nie onmiddellik of sonder hindernisse nie. Hy verseker die Israeliete dat hulle nie met leë hande sal vertrek nie (3:21-22), maar hulle moet sy tydsberekening en plan vertrou.

Waarom al die gesukkel voordat bevryding kom? Moses hoor dat aanvanklike pogings met Farao sal misluk. Waarom deur die fases van stryd gaan en tyd mors as uiteindelike sukses van die begin af belowe word?

Miskien is dit omdat die reis self noodsaaklik is om te leer wat geloof en vertroue is. Ons moet verstaan dat geduld, deursettingsvermoë en ontberinge deel van die reis is. Dis lesse wat ’n onmiddellike oplossing ons nie kan leer nie.

’n Chinese spreekwoord lui: “’n Diamant kan nie sonder wrywing gepoleer word nie.” Groei kom dikwels deur beproewinge.

Wagtydperke is deel van God se groter plan met ons lewe. Dit verdiep ons geloof en begrip van sy genade. Al is die pad uitdagend, lei dit ons na ’n groter vertroue in sy beloftes.

Here, dankie vir die beproewinge wat my leer om op U genade te vertrou en in geloof te groei. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-09-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer