No Image Caption

Bybelse wysheid

DR. ANNES NEL

Eksodus 3:6: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.”



Moses het ’n genadige Here ontmoet. Selfs toe Moses gevlug het, sy volk vergeet het, of selfs die leierskap wat God aan hom toevertrou het, geïgnoreer het, bly die Here getrou.

Vir God gaan dit nie oor Moses of selfs die volk se behoeftes nie. Die vervulling van sy beloftes het ’n gewetensaak vir Hom geword. Hy is die God van die verbond met die aartsvaders wat sy beloftes nie vergeet het nie.

Ja, Hy is getrou van geslag tot geslag. Die Here het die ellende van sy volk gesien en gehoor (3:7,9). Hul behoeftes en geroep het sy hart geraak. Hy kon hulle verdrukking nie langer verduur nie. Daarom het Hy afgekom om hulle te bevry (3:8). Die Here gee om. Hy staan nie op ’n afstand nie. Hy sal hulle bevry en die belofte om ’n land te gee, vervul (sien Genesis 15:19-21). Hy red hulle van slawerny en skep ’n nuwe toekoms.

In Christus het God afgekom as die finale vervulling van sy beloftes van ’n nuwe toekoms. Moses was deel van God se plan om sy beloftes te vervul. Hy hou aan om nuwe dinge te doen. Hy gebruik jou as ’n instrument. Jy sien, God betrek mense by die vervulling van sy beloftes, selfs wanneer hulle vir ’n tyd hulle eie pad loop.



Genade God, dankie dat U my gebruik as ’n instrument. Amen.

Kommentaar

Republikein 2025-12-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer